Gesin herbou nadat alles in brand verloor is
“Ek weet nie eers wie meeste van die mense is nie, maar ek wil vir hulle baie dankie sê. Ons is so dankbaar."
Die van der Merwe gesin herbou nadat hul huis in Kockstraat op 21 September afgebrand het.
Martie, Willem, Jaco, en Klara van der Merwe het alles in die brand verloor.
Die gesin weet steeds nie wat die brand veroorsaak het nie, maar dit blyk asof dit in Klara, ‘n Bailliepark Laerskool-leerder, se kamer ontstaan het.

“Ek was die hele dag by die huis. Ek het 20 voor twee gery om Klara by die skool te kry, toe bel Martie my en sê die huis brand. Ek het dadelik omgedraai en teruggery. Dit was nie eers 10 minute nie, toe lyk dit reeds so,” sê Willem, en wys na die sigbare brandskade aan die buitekant van die huis.
Martie vertel dat die afgelope paar dae baie moeilik was, aangesien daar geen roetine aan die gesin se dae is nie. “Niks is meer soos dit was nie.” Verder vertel Martie dat daar bepaal is dat die huis van die dak af ondertoe sal moet oorgebou word.
Die gesin bly tans in ‘n twee-vertrek woonstel in hul agter-erf.

“My suster het vanaf Nigel gekom en my gehelp om die woonstel reg te maak om in te bly tot die huis reggemaak is,” sê Martie.

Die gesin het reeds twee enkelbeddens, ‘n dubbelbed, ‘n stikamerstel, beddegoed, en klere in skenkings ontvang. Willem het van die staalkaste wat in hul huis was uitgehaal en gewas sodat die gesin stoorplek het. “As die huis net reggemaak kan word sal ons maand tot maand kan herbou. Die huis moet net eers regkom,” sê Willem.

“Ek weet nie eers wie meeste van die mense is nie, maar ek wil vir hulle baie dankie sê. Ons is so dankbaar,” sê Martie. Die gesin bly positief te midde die moeilike omstandighede, en wys uit dat hul steeds baie het om voor dankbaar te wees. “Daar is ouens wat op die straat slaap met net ‘n kombers,” sê Willem.
“Mense besef nie hoeveel elke skenking en drukkie beteken wanneer mens deur so iets gaan nie,” sê Martie. Nadat die gesin se huis in totaliteit afgebrand het, het Potchefstromers dadelik bymekaar gekom en planne begin maak om die gesin te help. Skenkings het dadelik begin instroom.
“Ons eet man. Ons is okay,” sê Willem.
“Ons wil regtig net baie dankie sê vir almal wat ons ondersteun en ons help deur skenkings,” sluit Willem en Martie af.



