Chris Hani Pompstasie-hoofpyn vererger
Die pompstasie in Chris Hanistraat, wat reeds vir ongeveer drie jaar buite werking is, staar ‘n nuwe uitdaging in die gesig. Heinricha Hodgson, DA wyksraadslid van wyk 5, het in die afgelope twee mande inligting ontvang dat nuwe pompe bestel is, aangekom het, en teen einde September sal installasiewerk voltooi wees. Onlangse inligting blyk egter …
Die pompstasie in Chris Hanistraat, wat reeds vir ongeveer drie jaar buite werking is, staar ‘n nuwe uitdaging in die gesig.

Heinricha Hodgson, DA wyksraadslid van wyk 5, het in die afgelope twee mande inligting ontvang dat nuwe pompe bestel is, aangekom het, en teen einde September sal installasiewerk voltooi wees.
Onlangse inligting blyk egter dat installasie-werk steeds nie begin is nie aangesien die diensverskaffer steeds wag vir betaling.
Ian de Villiers, Vryheidsfront Plus raadslid, sê “Dit is skandelik dat die inwoners van Miederpark en die naburige landbougemeenskap vir letterlik jare in rioolstank moes lewe weens die munisipaliteit se nalatigheid.” De Villiers verwys na die riool wat in die gemeenskap en landbougrond in die omgewing opstoot as gevolg van die stukkende pomp.

De Villiers bevestig dat installasie- en herstelwerk steeds nie kon begin nie.
“Dit is verstommend en onaanvaarbaar dat ‘n aangestelde diensverskaffer nou reeds vir ‘n maand verhoed word om hierdie noodsaaklike herstelwerk te doen weens die feit dat JB Marks Munisipaliteit nie sy finansiële verpligtinge nakom nie,” voeg De Villiers by.
Intussen word inwoners steeds geaffekteer deur die riool wat hul omgewing besoedel.
“Inwoners van Potchefstroom kan nie langer gestraf word deur die nalatigheid en wanbestuur van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit nie,” sluit De Villiers af.
*teen druktyd kon JB Marks Munisipaliteit steeds nie bereik word vir kommentaar nie.



