Local newsNewsNews

Braam en die engel neem jou na ʼn magiese wêreld van hoop

“Braam en die engel” skep vanjaar ʼn magiese wêreld by Aardklop wat teatergangers van alle ouderdomme in vervoering laat.

“Braam en die engel” skep vanjaar ʼn magiese wêreld by Aardklop wat teatergangers van alle ouderdomme in vervoering laat.

Nie net is die toneelspel voortreflik en eerlik nie, maar die treffende stelontwerp en uitstekende gebruik van rekwisiete en poppe bring hierdie epiese jeugverhaal tot eie reg.

Braam (gespeel deur De Klerk Oelofse) word met behulp van ‘n pop uitgebeeld met talle byspelers wat help om hierdie pop te beheer. Oelofse se jeugdige vertolking van Braam, ‘n 10-jarige seuntjie, is uitstekend opgevoer.

Die talentvolle, Joanie Combrink, tree as ʼn fantastiese en geloofwaardige verteller op met Shaun Oelf wat die rol van Braam se engel (Hnnerik) speel. Die gesoute aktrise, Rehane Abrahams, speel ook talle uiteenlopende rolle met gemak in hierdie verhaal wat oor verlies, eensaamheid, maar ook die krag van vriendskap en hoop fokus.

Braam is alleen na sy ouers se dood en bid dat hy hulle weer kan sien. Sy ontmoeting met sy engel neem hom op ‘n reis van selfontdekking wat verskeie dorpe, karakters en ‘n baie oulike hondjie insluit. Die hond (ook ‘n pop) is een van die sterre van “Braam en die engel” en die uitbeelding van hierdie toneel het die gehoor laat skater, maar ook in verwondering gelaat oor hoe goed dit uitgevoer is.

Oor die algemeen word rekwisiete en verskeie elemente op die verhoog soos klokwerk verskuif wat die toneelstuk aanhou laat beweeg. Beligting, die gebruik van silhoeëtte, musiek, sowel as verskeie stemklanke word ook baie voortreflik gedoen om atmosfeer te skep.

“Braam en die engel” is Nico Scheepers (regie) in sy element met teater wat jou weer in die belangrikheid van lag sal herinner, dat die ellendes van die lewe oorwin kan word en wat dit beteken om werklik tuis te voel.

Daar is nog een vertoning oor hierdie Aardklop wat vanoggend (Vrydag, 6 Oktober) om 09:30 by die Elgro Hotelsaal plaasvind.

Kry kaartjies hier:

Met: Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Shaun Oelf
Teks:
 Kanya Viljoen, geskoei op die gelyknamige jeugroman van Marietjie de Jongh
Komponis/Oorspronklike musiek:
 Franco Prinsloo
Regie:
 Nico Scheepers
Choreografie: 
Grant van Ster
Rekwisiete en poppe
: Nico Scheepers, Nell van der Merwe
Stel-, kostuum- en beligtingsontwerp: 
Nico Scheepers, Nell van der Merwe
Vervaardiger:
 KKNK namens Momentum Beleggings Aardklop
Moontlik gemaak deur:
AK21, NATi, Momentum Beleggings Aardklop

Genre: Drama, Multidissiplinêr
Taal: 
Afrikaans
Gradering: 
Gesin
Tydsduur: 
75 min.
Venue:
 Elgro Hotelsaal
Datum en tyd:
6 Okt 9:30
Kaartjies:
 R200, R180 (Aardklop Hartsvriende)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button