Local newsNewsNews

Kasteel sing eerste plek los in nasionale Acapella-kompetisie

Kasteel Dameskoshuis sit nou op die Sêrtroon nadat hulle die nasionale Atterbury Trust Acapella-kompetisie op Saterdag, 30 September in Pretoria verower het.

Kasteel Dameskoshuis sit nou op die Sêrtroon nadat hulle die nasionale Atterbury Trust Acapella-kompetisie op Saterdag, 30 September in Pretoria verower het.

Kasteel het die Noordwes-Universiteit (NWU) se naam hoog gehou en ander teenstanders in hierdie universiteitskompetisie uitgestof.

Kasteel het ook as die algehele wenners met prysgeld van R25 000 weggestap. Verskeie universiteite se top twee Acapella groepe is deur die Atterbury Trust genader om kragte te meet en te sien wie die beste in die land is. Die Noordwes-Universiteit se Kasteel Dameskoshuis en Patria Manskoshuis het die NWU verteenwoordig.

“Die Serenade kompetisie op die NWU se Potchefstroomkampus is al vir baie jare ‘n hoogtepunt op die kunstekalender en kaartjies verkoop uit soos soetkoek,” sê Jaco van der Walt, senior bestuurder van NWU Kunste.

“Ons het dus die geleentheid aangegryp om te gaan deelneem en skouers te skuur met die wengroepe van ander universiteite. Daar was ook groepe van Maties en Tukkies en hopelik sal ander universiteite volgende jaar ook deelneem,” voer hy verder aan.

Julia de Beer, Primaria van Kasteel Dameskoshuis asook die hoofafrigter van Kasteel se Acapella-groep sê hulle het reeds vroeg Saterdagoggend na Pretoria vertrek om slaggereed te wees vir die aand se kompetisie.

“As prim, kan ek nie méér trots wees nie! Dis altyd lekker om met sêr so goed te doen, want dit is ‘n produksie wat deur die hele koshuis geniet word. Ek is ook bitter trots op die harde werk en tyd wat die dames vir die koshuis, maar ook vir mekaar, ingesit het,” sê De Beer. “Die sêr is vir my die toonbeeld van wat ek hoop Kasteel vir die res van die koshuis is – ‘n omgewing waar jy opreg jouself kan wees, en dit nie net aanvaar word nie, maar ook gesalueer word!”

Kasteel se tema was Barbie.

“Ons wou graag oordra hoe daar so gereeld ‘n verwagting op mense (maar veral op vroue) geplaas word om perfek te wees. En hoe mens soms steeds, ten spyte van mense se beste probeer, nie goed genoeg voel nie,” noem De Beer.

Patria Manskoshuis het ook aan hierdie kompetisie deelgeneem.

Jacques Jacobs het die choreografie behartig terwyl MJ Nel en Kobus Viljoen as verwerkers opgetree het en met die afronding vir Kasteel gehelp het.

Die beoordelaars vir die gesogte kompetisie was Anna Davel, Franco Prinsloo, Steffie le Roux, Stephanie Baartman en Francois Botha.

Jak de Priester het as seremoniemeester opgetree en die aand afgesluit as gaskunstenaar met van sy top treffers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button