Local newsNewsNews

Bekende skrywers deel meer oor hul jongste boeke by Aardklop

Beide Leon van Nierop en Marita van der Vyver het Dinsdag, 3 Oktober by die fees se gesprekke-lokaal by The Roots Sonkamer oor hul nuutste romans gepraat met lesers van regoor die land.

“Elke storie is anders,” het Leon van Nierop en Marita Van Der Vyver vertel tydens hulle boekgesprekke op die eerste dag van Momentum Beleggings Aardklop 2023.

Beide Van Nierop en Van der Vyver het Dinsdag, 3 Oktober by die fees se gesprekke-lokaal by The Roots Sonkamer oor hul nuutste romans gepraat met lesers van regoor die land.

Tydens die gesprek wat gelei is deur digter en vertaler, Pieter Odendaal het van Nierop vertel dat sy nuutse roman, Duiwelsroos, ietwat kompleks is, maar tog vir almal is. Die boek vertel die verhaal van ‘n outistiese seun, Marnus van Eck, wat presies ’n jaar gelede in ’n motorongeluk gesterf het. Met die herdenking van sy dood, ondersoek speurder Beer Henning die gebeure rondom sy dood. Tydens sy ondersoek besef hy dat verskeie mense Van Eck uit die weg wou ruim as gevolg van sy betrokkenheid by ’n giftige roos.

“Ek hou dikwels daarvan dat die leser hom of haarself in die storie moet vind. In hierdie roman wil ek hê die leser moet sáám met die speurder die rede vir Van Eck se dood probeer ontrafel,” het Van Nierop beklemtoon.

Met ’n mengsel van intrige, misleiding en spanning, blyk Duiwelsroos om lesers vasgenael te hou van die begin tot by die verrassende ontknoping.

Verder het bekroonde joernalis, medeskrywer en media-entrepreneur, Irna van Zyl, bietjie later in die dag met Marita van der Vyver oor haar weke-oue roman, Laaste Kans, gesels.  Die roman, wat ’n opvolg op die gewilde Wegkomkans is, handel oor ’n groep vriende wat mekaar na 25 jaar weer sien. Hulle kom byeen om die 70ste verjaardag van een van die groepslede te vier by ‘n standhuis aan die Weskus.

“Oor die jare het ek baie lesers gehad wat vir my gevra het wat van die 10 karakters in Wegkomkans geword het. Laaste Kans besoek dieselfde karakters 25 jaar later, maar ek het nog 10 karakters bygevoeg,” het Van der Vyver vertel.

“Ek het gedink dat dit interessant sal wees om ’n jonger generasie ook in te bring, want 25 jaar gelede het Wegkomkans afgesluit met ’n groepsfoto en daar was klein kindertjies by. Vyf-en-twintig jaar later is hierdie klein kindertjies grootmense. Dit het baie moontlikhede geskep vir gesprekke en argumente.”

Verder het Van der Vyver ook klem geplaas op die feit dat die boek geskryf is om op sy eie bene te staan. Volgens haar kan lesers altyd ná hulle Laaste Kans gelees het ook Wegkomkans lees.

“Dit sal vir my lekker wees as Laaste Kans dieselfde terugvoer kan ontvang as Wegkomkans. Ek hoop dat daar mense sal wees wat dit weer en weer sal lees en soos die jare aangaan met verkskillende karakters kan identifiseer,” het Van der Vyver gedeel.

Beide Duiwelsroos en Laaste Kans bied ’n unieke blik op die menslike ervaring, met spanning, intrige, en diep emosies wat elke leser sal aangryp.

Vele meer aktuele en boekgesprekke is gratis beskikbaar vir die res van die week by The Roots Sonkamer daagkliks vanaf 09:00 tot 18:00.

Related Articles

 
Back to top button