Local newsNewsNews

Oudword is nie vir sissies nie!

Hans steek die Rubicon oor is ’n Aardklop toneeltuk wat jou telkens laat skater, maar ook diep ontroer en laat nadink oor oudword en die frustrasie van verlies en selfbeskikking en eienaarskap oor jou lot.

Hans steek die Rubicon oor is ’n Aardklop toneeltuk wat jou telkens laat skater, maar ook diep ontroer en laat nadink oor oudword en die frustrasie van verlies en selfbeskikking en eienaarskap oor jou lot.

‘n Sleutelkomponent tot die sukses van die produksie is die ongelooflike talent van akteur Charles Bougeunon wat pas die SAFTA-toekenning vir die beste ondersteunende rol in ‘Binnelanders’ gewen het. Hy vertolk die rol van hoofkarakter, Hans, ’n 90-jarige man wat teen sy wil na ‘n ouetehuis gestuur word. Die veelsydige Bougeunon speel ook nog 15 ander karakters in die stuk. Sy vermoë om soomloos tussen ‘n verskeidenheid karakters te wissel, getuig van sy talent en uitstekende karaktervertolking. Volgens Charles het gesoute ouer akteurs nee gesê vir die rol en dit was inderdaad ‘n reuse uitdaging. “Die groot kuns is om dit maklik te laat lyk.”

Die stuk self werp ’n hartroerende blik op die gebeure binne die ouetehuis en die stryd wat Hans ervaar om ’n plek te vind waar hy self sy besluite kan neem. Dit is ’n tema wat baie mense persoonlik raak, aangesien dit die gevoelens van magteloosheid en frustrasie illustreer wat kan ontstaan wanneer ander mense jou lewe begin bestuur, veral as jy ouer word. Die aangrypende stuk ontroer en Hans inspireer met hoe hy die uitdagings van oudword en die verlies van selfbeskikking hanteer.

Hans steek die Rubicon oor verweef humor en diep emosie uitstekend met mekaar. Jy lag, maar pink ook ’n traan of twee en stap weg met ’n bewustheid van die kwesbaarheid van die mens.

In ‘n tyd waarin die ouerwordende bevolking groei, lewer Hans steek die Rubicon oor ’n belangrike bydrae tot die gesprek oor die uitdagings en emosies wat ouer mense in ons samelewing ervaar. Die produksie herinner ons daaraan om diegene wat voor ons gegaan het te koester en te respekteer. “Ons vergeet dat hierdie mense is wat ons grootgemaak het en nou is hulle eenkant toe gestoot,” sê Charles. “Hulle is die reuse; ons loop in húlle voetspore.”

Hans steek die Rubicon oor was oorspronklik ’n boek, toe ‘n radiovoorlesing deur Tobie Cronjé en is nou ook in fliekvorm beskikbaar. Maar die unieke uitdagings en direkte gehoor-akteur interaksie wat teater bied, maak hierdie ’n unieke ervaring vir die gehoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button