Local newsNewsNews

Musiek en herinneringe vervleg in Any Dream Will Do: My pad met Webber

Hierdie vertoning het nie net die gehoor vermaak nie en vir 'n staande applous gesorg nie, maar dit het ook ’n blik gegun op André Schwartz se unieke verhouding met die ikoniese komponis, Andrew Lloyd Webber.

“Drome wat nie aan die werklikheid gekoppel is nie verdwyn tot in die nuut.” Dit was André Schwartz se inspirerende woorde tydens die Any Dream Will Do: My pad met Webber produksie wat op 4 Oktober by Aardklop plaasgevind het. Hierdie vertoning het nie net die gehoor vermaak nie, maar dit het ook ’n blik gegun op Schwartz se unieke verhouding met die ikoniese komponis, Andrew Lloyd Webber.

In die produksie is Schwartz se fokus op drome en om jou drome na te jaag. In ’n Onderhoud met die NWU Nuushonde het hy genoem dat Malanseuns Kwekery ’n roos na hom vernoem het en die eienaar het aan hom gesê dat: “Die belangrikste ding van ’n droom is dat dit ’n sperdatum het, want anders bly ’n droom net ’n droom. Jy moet daadwerklik dink wat jy wil doen met ’n droom en wanneer moet hierdie ding vir jou lewe begin kry en ’n  realiteit word.”

Alhoewel Schwartz gesê het dat hy in al die produksies gespeel het wat hy wou, sal hy graag nog in Les Misérables wil speel en die rol van Javert wil vertolk. Hy sit sy eie stempel op die werk van Webber. “Die belangrikste is om te gaan kyk na wat hy geskryf het, met ander woorde, om te gaan na die liriek. Gaan kyk na die betekenis en wanneer dit daar is, dan kyk jy hoe dit identifiseer met dele in jou lewe en jou persoonlikheid, en dit is hoe jy dit jou eie maak.”

Hy het genoem dat hy baie positief is oor die toekoms van teaterkuns. “Ek is ’n Naledi beoordeelaar, wat beteken ek gaan na ’n klomp verhoogkuns toe wat heeltemal buite die Afrikaanse bubble val. Ek dink wat met teater gebeur is ongelooflik. Ek het hierdie jaar seker nou al vyftig nuwe produksies gesien wat buite Afrikaans val en dit is verskriklik opwindend wat daar gebeur, en hoe mense dit alles so uniek maak aan ons Suid-Afrikaanse werklikheid, is beeldskoon.”

Die toekoms lyk blink vir André Schwartz. Hy noem dat hy vir nou gaan toer met hierdie produksie wat sy reis met Webber oopvleg. Hy is tans besig om ‘n film te vervaardig en daar is ook ‘n produksie, Grensloos, waarmee hy en Coenie de Villiers besig is.

En op filosofiese nood eindig Schwartz af met die wyse raad:

“Daar is nooit tyd vir alles nie. So my advies sal doodeenvoudig wees, gaan na die droom wat die hardste met jou praat. Nie die maklikste een nie, gaan na die droom wat die hardste met jou praat en begin werk aan hom.”

Momentum Beleggings Aardklop is in Potchefstroom tot en met Sondag 8 Oktober. Die feesterrein en meeste teaterproduksies eindig Saterdag 7 Oktober, so maak seker jy kry betyds jou kaartjies om by te woon!

Related Articles

 
Back to top button