Baillies verwelkom ‘n bekende gesig as tweede adjunkhoof
Na ongeveer 20 jaar as ‘n passievolle onderwyser by Laerskool Mooirivier gaan Benje Ouwencamp nou groen en geel vir rooi en blou verruil en sluit by Laerskool Baillie Park as tweede adjunkhoof aan.
Na ongeveer 20 jaar as ‘n passievolle onderwyser by Laerskool Mooirivier gaan Benje Ouwencamp nou groen en geel vir rooi en blou verruil en sluit by Laerskool Baillie Park as tweede adjunkhoof aan.
Hy sal saam met mnr. Rieme Redelinghuys die adjunkhoof verpligtinge deel.
Ouwencamp (46) het ook die adjunkhoofpos by Laerskool Mooirivier vir die afgelope vyf jaar beklee en noem dat die nuwe hoofstuk in sy onderwysloopbaan deel van ‘n loopbaan skuif is.
“Ek is baie opgewonde om deel van Baillies te wees en ‘n verskil hier te maak. Die hoofrede vir die skuif is om my loopbaan te groei. Ek is op goeie terme weg by Mooirivier,” beklemtoon Ouwencamp wat sinoniem met die Tokkie-familie was.
Ouwencamp bring hope ervaring en kundigheid na Baillie Park en noem dat hy stelselmatig sy stempel sal afdruk om te verseker dat Baillies aanhou van krag tot krag groei.
“Ek sien baie geleenthede hier by Baillies. Bailliepark as woonbuurt brei ook baie uit en die skool groei jaarliks. Ek is bevoorreg en geseënd om die pos te kon kry hier,” vertel hy met sy kenmerkende glimlag.

Vir hierdie adjunkhoof en onderwyser is onderwys ‘n lewenswerk waar ‘n gelukkige kind sy maatstaf is. “Vir my is dit verblydend om kinders te sien wat gelukkig is. Onderwysers vervul verskeie rolle in ‘n kind se opvoeding en groei,” noem hierdie wetenskap en tegnologie-onderwyser.
Ouwencamp, wat sy studies in Potchefstroom by die Potchefstroom Onderwyskollege voltooi het, se onderwysloopbaan het by Laerskool Helderkruin in Roodepoort begin. Na twee jaar is hy na Laerskool P A Theron in Stilfontein vir vier jaar voordat hy na Mooirivier is. Terwyl die onderwys sterk in sy hart klop is daar nog ‘n groot liefde wat Ouwencamp laat jubel.
In sy vrye tyd is hy in sy element wanneer hy in die Vaalrivier vlieghengel. Dit is hier waar hy kan ontspan en hom van die gejaag van die wêreld kan afsny.
“Dit is ‘n wonderlike gevoel as die water verby jou vloei. Dit is hier waar ek planne beraam en my probleme deurdink en uitsorteer,” vertel Ouwencamp terwyl sy oë blink.
Hy het twee dogters, Danielle (29) en Nadia (19) en is vir die afgelope 21 jaar met sy vrou, Jolita, getroud. “
Dit is vir my belangrik om nou in ‘n splinternuwe pos net eers my voete te vind. Alles sal met tyd kom en ek sien baie uit om bestaande strukture te verbeter.”



