Probleemhuis wek kommer onder inwoners
Meer as ‘n jaar nadat die voormalige Westerhof gemeenskaplike woonhuis in Beyers Naudelaan 153 brandskade tydens ‘n huisbrand opgedoen het, bly daar steeds mense onwettig op dié perseel.
Meer as ‘n jaar nadat die voormalige Westerhof gemeenskaplike woonhuis in Beyers Naudelaan 153 brandskade tydens ‘n huisbrand opgedoen het, bly daar steeds mense onwettig op dié perseel.
Daar is ook al ‘n aansoek om uitsetting van stapel gestuur met betrekking tot die onwettige inwoners in terme van die wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, (Wet 19 van 1998).
Volgens DA wyksraadslid, Madra de Bruin, is hierdie huis se onwettige inwoners al vir ‘n lang tydperk ‘n probleem, aangesien hulle nie net verniet daar plak nie, maar ook glo oop vure in die erf gemaak het, onder ander onwettighede.
“Op 29 Desember 2021 het ek ‘n oproep van ‘n ontstelde inwoner ontvang oor ‘n geweldige stink reuk en vuur wat gemaak word om water te kook met enige iets wat hulle in die hande kon kry. Ek het die Departement van Gesondheid gekontak, wat inspeksie gaan doen het en bevestig het dat die gesondheidsregulasies nie nagekom word nie,” noem De Bruin.
Op 14 Mei 2022 is die huis na die brand deur die brandweer van J.B. Marks as onveilig verklaar, maar dit keer nie die huurders om aan te bly nie.
“Die inwoners in die gebied beweer dat die inwoners wat ontydig hier woon, ‘n rol in die toename van misdaad en diefstal in die gebied speel. Die inwoners voel nie veilig nie, omdat enige iemand net daar kan woon en die wet oortree,” noem sy.
De Bruin noem wel dat die polisie gereeld inspeksie by die eiendom doen.
Die Herald het saam met DA wykraadslede, Madra de Bruin en Heinricha Hodgson, die perseel Dinsdag, 17 Oktober besoek. Daar was ‘n man en vrou wat op die perseel in ‘n karavaan woon en wat op pad was om te ry. Die man het by navraag genoem dat hy toestemming het om daar te woon. Hy het ook gedreig dat hy die joernalis se kamera sou breek indien daar foto’s van hom geneem word.
Die Herald het die eienaar se seun, mnr. Willie van der Westhuizen, wat as kurator van die eiendom optree, oor die probleem gekontak.
Hy het bevestig dat hy reeds ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak het.
De Bruin het ook deur middel van verskeie e-pos korrespondensie vereis dat die bank ook self ‘n inspeksie van die eiendom van stapel moet stuur om die risikofaktore te bepaal.
In hierdie korrespondensie het die bank ook bevestig dat daar vir ‘n dringende inspeksie gereël sal word.






