Local newsNewsNews

Familie ontsteld na Pitbull-saak weer uitgestel is

Kokolosi-hul het alreeds 04:30 vanoggend al die pad van Bloemhof vertrek om betyds te wees. Hulle noem dat hul weer eens teleurgesteld en kwaad is dat die verrigtinge vertraag is. 

Die verhoor van die eienaars van pitbull-honde waar ‘n huishulp, Dipuo Kokolosi (48), deur dié honde op 25 Januarie 2022 verskeur is, is vandag (Maandag, 6 November) weens ‘n foutiewe opnamemasjien uitgestel.

Die opnamemasjien wat in die Potchefstroom Stadsaal gebruik is, is weens tegniese redes foutief en kon teen 11:00 nog nie herstel word nie. Sodoende kon die verhoor nie opgeneem word nie.

Die verhoor is na 9-10 Januarie 2024 uitgestel.

Chandré en Marno Mostert, word beide ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede aangekla. Daar word beweer dat hulle nalatig was.

Hul regsverteenwoordigers, Malan Schutte en Anei de Waal, was ook by die hof teenwoordig. Schutte het voorheen aan die Herald bevestig dat sy kliënt se pitbull-honde op die dag van die voorval agter ‘n sekuriteitshek toegemaak was.

Chandré Mostert (middel) en Marno Mostert (regs) saam met hul regsverteenwoordiger, Anei de Waal (links) buite die Potchefstroom Stadsaal. Die Mostert-egpaar word ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede aangekla dat hul nalatig was. Foto: Wouter Pienaar.

Kokolosi wat ook by die hof saam met haar broer, Joseph Modise, haar dogter, Patricia Modise en ander familielede. Hulle het 04:30 vanoggend al die pad van Bloemhof vertrek om betyds te wees. Dit is ongeveer 402 kilometer heen en weer. Hulle noem dat hul teleurgesteld en kwaad is dat die verrigtinge vertraag is.

“Dit is nou twee jaar wat hierdie saak aangaan. Dit is vir ons baie duur om heen en weer te ry van Bloemhof na Potch. Dit kos ons heen en weer ongeveer R 3000 elke keer. Ons is baie ongelukkig dat die verhoor uitgestel is,” maan Joseph.

Dipuo Kokolosi (tweede van regs) en haar familielede is omgekrap omdat verhoor uitgestel is. Links na regs is Lerato Kokolosi (niggie), Patricia Modise (dogter), Dipuo Kokolosi en Joseph Modise (broer). Foto: Wouter Pienaar.

Kokolosi se lewe het in ‘n oogwink verander nadat sy op 25 Januarie 2022 deur drie pitbull-honde aangeval is. Kokolosi was ten tyde van die voorval die huishulp van die Mostert-egpaar.

Tydens die voorval het die honde Kokolosi se neus, lip, en oorskulpe afgeruk en ook ander dele van haar liggaam gebyt.

Ziggy Abdullah, ‘n buurman, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.

Dipuo Kokolosi se gesig is na die Pitbull-aanval in Januarie 2022 geskend. Foto: Wouter Pienaar.

Ongeveer twee jaar na hierdie voorval ervaar Kokolosi nogsteeds emosionele en fisiese pyn. Sy het alreeds talle rekonstruktiewe operasies ondergaan en daar word beoog dat daar weer op 15 Januarie 2024 aan haar gesig gewerk sal word om haar neus kosmeties te herstel.

“Die operasie sal by Chris Hani-Baragwanath hospitaal plaasvind. Die dokters noem dat dit ongeveer so 2-3 weke sal vat met die herstelproses na die operasie,” het haar broer Joseph verduidelik.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button