Ebenezer kerk en kleuterskool sonder krag
Kragdrade is vir 'n tweede keer by Ebenezer Kerk en Kleuterskool gesteel.
Ebenezer Kerk en Kleuterskool, beide pilare in die Ikageng-gemeenskap, is al vir drie maande sonder krag.
DA wyksraadslid Johan Zerwick sê dis die tweede keer wat die kragdrade afgesny en gesteel word. “Die vorige keer het Duet Gemeente geld bymekaar gemaak om die kragdrade te vervang. Dit het ongeveer R 7000 gekos om weer krag by die kerk en kleuterskool te kry,” vertel Johan.
Jacob Mofokeng, pastor in Ebenezer Kerk is moedeloos. “Ek het dit al baie rapporteer, maar geen krag word aan ons verskaf nie. Ek weet nie meer na wie toe om te draai nie, ek is so teleurgesteld in ons leiers,” sê Jacob neergetrokke.

Jacob vertel verder dat daar elke maand huur betaal word vir beide die kerk en kleuterskool, maar dat hul geen dienste ontvang nie.
Die leerders in die Kleuterskool kry kos by die skool, en Jacob vertel dat dit ook tans problematies is. “Die kinders sukkel in hul klasse. Daar is nie yskaste by die skool om hul kos in te hou nie, so dit word van my huis af aangery,” vertel Jacob. “Ons is al yskaste belowe, maar dit kom nie.”
Johan noem dat die kleuterskool Vrydagnag, 27 Oktober geplunder is. Daar is tans geen krag o water by die kleuterskool nie. “Daar is 95 kleuters in die skool,” sê Jacob. “Daar is nie krag nie en ons moes die water laat toedraai. Die toilette kan nie gebruik word nie, daar is nie water om te drink nie.”

Johan en Jacob wys uit dat alle koper en alles wat koper bevat afgesny of uitgebreek is en gesteel is.

Jacob vertel verslae dat dit die derde keer is wat daar by die kleuterskool ingebreek is.
“Ons moet soos Jesus lewe, maar dis moeilik,” sê Jacob en glimlag tenspyte van alles.
Die JB Marks Munisipaliteit kon nie bereik word vir kommentaar rakende die krag-probleem nie.



