Nuwe direksie na 40 jaar vir Dienssentrum
Sanet Jansen Van Rensburg, nuwe direkteur vir Potchefstroom Dienssentrum, vertel dat dit haar passie is om diensbaar te wees.
Na 40 jaar kry Potchefstroom Dienssentrum ‘n nuwe direkteur. Sanet Jansen Van Rensburg, wat self al 32 jaar by die Dienssentrum werk, is as nuwe direkteur aangestel.
Sanet het in Ottosdal grootgeword en by die Noord-Wes Universiteit studeer. In 1992 het Sanet by Dienssentrum begin werk as maatskaplike werker. “Ek was eers maatskaplike werker, toe bestuurder, toe adjunk-direkteur en nou is ek direkteur,” vertel Sanet laggend.
“Mens is hier om te dien,” merk Sanet op in terme van haar werk by die Dienssentrum. “Jy leef jou roeping uit wanneer jy besig is om ander te dien.”
Sanet geniet haar werk by die Dienssentrum, en noem dat sy kan voel sy maak ‘n verskil in mense se lewens. “Mens maak die lewe makliker vir ouer persone. Ouer persone het mense nodig om hul emosies mee te deel. Hul vreugde en hul hartseer.”
Sanet vertel verder dat die Dienssentrum ‘n omgewing skep vir ouer persone wat hul ‘n rede gee vir hul bestaan. “Dit gee betekenis aan hul lewe,” las Sanet by.
“Jou hart moet in bejaarde sorg wees in hierdie industrie,” vertel Sanet. “Jy moet rerig ‘n passie hê vir wat jy doen. Om ouer persone te laat voel hulle het bestaansreg is belangrik. Baie van ons oumense sien familie min. Wanneer jongmense deel is van programme wat ons aanbied hier kan mens sien dit blaas lewe in die ouer persone.”
Sanet wil graag die Potchefstroom-gemeenskap herinner aan die Dienssentrum se doelstelling, “Dienslewering aan ouer mense om hulle so lank as moontlik selfstandig te hou. Dit sluit in kos-aflewerings, vat vir inkopies, sosiale programme en meer.”
“Die Diensentrum gee vir bejaardes se kinders en kleinkinders gemoedsrus want hul kan verseker wees dat daar na hul ouers en groot-ouers gekyk word,” las Sanet by. “Dit maak Potchefstroom die ideale aftree-dorp. Die Dienssentrum is ‘n gemeenskapsorganisasie in ‘n gemeenskap vir die gemeenskap.”
Sanet praat met die ouer persone in die gemeenskap en noem dat hul waardevol is. “’n Gemeenskap het ouer persone nodig. Hul het so baie lewenservaring om met jonger mense te deel.”
Verder vra Sanet dat die gemeenskap meer sensitief sal wees teenoor ouer persone. “Potch het ‘n groot korps ouer mense, maar die dorp het nie baie rolstoel-vriendelikheid nie. Maak ingange en parkerings meer rolstoel-vriendelik, en badkamers wat ouer persone met gemak kan gebruik.”



