Local newsNewsNews

Kunstenaar se kleurvolle verhaal in outentieke outobiografie vervat

'Uit Die Huis van Cronjé Lemmer': 'n collage van kuns, klere & kletspraatjies,” is ‘n inspirerende verhaal wat mense vanuit verskeie lewensperspektiewe uitdaag om hulle drome te kan volg en net soos Lemmer, hul eie bloudruk in die wêreld te plaas.

Die kleurvolle lewe van die plaaslike kunstenaar en modeontwerper, Cronjé Lemmer, is nou in ‘n saamgestelde outobiografiese boek vervat.

Lemmer is sedert hy die Huis van Cronjé Lemmer in 1972 in die destydse Santam Arkade in Potch oopgemaak het, ‘n kunstige enigma en is welbekend vir sy kollografiekuns en modeontwerp.

Hierdie man se lewe word op elke bladsy van ‘Uit Die Huis van Cronjé Lemmer’: ‘n collage van kuns, klere & kletspraatjies,” in sy stem oorvertel. Verskeie foto’s, koerantuitknipsels, sketse en patrone van Lemmer se werk word deurlopend gebruik om die visuele aspek te verhoog.

Cronjé Lemmer, modeontwerper en kunstenaar saam met Hestia Victor, wat sy outobiografie, Uit ‘Die Huis van Cronjé Lemmer’: ‘n collage van kuns, klere & kletspraatjies, saamgestel het. Foto’s: Wouter Pienaar.

Lemmer word presies soos die titel uitgebeeld: Met kletspraatjies oor kuns en klere – en watter waardevolle kletspraatjies is dit dan nou nie!

Die inspirasie vir die boek het ontwikkel nadat ‘n goeie huisvriend van Lemmer, Hestia Victor, voorgestel het dat sy ‘n boek oor sy kleurryke lewe saamstel. Dit het gespruit uit verskeie gesprekke en stories wat hul gedeel het terwyl Victor by hom raad gekry het oor haar eie ontwerpe.

Die boekomslag.

“Dit is belangrike stories om neer te skryf. Baie van die stories uit die 70’s en 80’s gee ‘n blik op die kultuur van daardie tyd en wat agter die skerms by baie van die funksies gebeur het,” verduidelik Victor.

“Ons het opnames van onderhoude gemaak, of hy het vir my opnames gestuur van verskillende gebeure en so het ons heen en weer inligting oor ‘n tydperk van twee jaar ingesamel. Ons is vir maande deur foto’s en koerantberigte wat ook by die stories pas,” onthou Victor.

Die welbekende modeontwerper en kunstenaar, Cronjé Lemmer, het sy outobiografie vanjaar bekendgestel. Hestia Victor het die boek saamgestel wat meer as vyf dekades van sy lewe uitbeeld. Foto: Wouter Pienaar.

“Ek stel dit saam, maar ‘n mens moet steeds sy stem hoor. Om daardie intimiteit te behou was belangrik sodat lesers dit uit sy mond kan hoor,” vertel Victor.

Dit was ook ‘n langdurige proses om te besluit watter stories wel gepubliseer word. Die boek is nie sterk kronologies nie en eerder ‘n blik op verskeie sleutelpunte in Lemmer se lewe. Partykeer word die spanning van die gebeure gebreek deur ‘n storie uit Lemmer se kinderdae.

“Mooi dinge het met my gebeur en na my kant toe gekom. Baie van die stories het ‘n Christelike tema ook.

“Ons het al baie kommentaar oor die boek gekry. Daar is stories waar ‘n mens baie gaan lag, huil en ook simpatie sal hê met sekere gebeure. Soos die Londen storie…Maar laat ek nou nie te veel weggee nie,” noem hy.

Vir Cronjé is dit verblydend dat sy kuns en modes al deur die jare so baie vir mense beteken het. “Ek skep kuns wat vir my mooi is. Ek het in 1991 ‘n etskursus gedoen by die Puk en eers in 1996 my etspers gekry. Ek onthou ek was ongelooflik opgewonde om dit te kry. Ek het Psalm 51:17 ‘Here gee my die woorde om U lof te verkondig’ op die etspers gesit omrede ek alles vir God doen.”

Die kleurgebruik in Lemmer se kuns is ook opvallend en dit word ook in hierdie lewenskets van hom uitgebeeld.

“Dit stories is baie rou en eerlik. Ek het probeer om juis die emosie te hou. So beeld ‘n mens die menslikheid en outentieke emosie van die modes en kunswerke uit. Die stories en foto’s in die boek is ‘n manier om te wys wat die Here in Cronjé se lewe gedoen het. Dit vier die volle omvang van wat dit is om mens te wees,” verduidelik Victor.

“Dit is ‘n lekker gevoel om te weet dat daar ‘n rekord is van sy lewe en alles wat hy behaal het. Die boek lyk nie net mooi nie, maar beeld die outentieke weergawe uit van wie hy is.”

Lemmer noem ook dat hy self beïndruk is met die kwaliteit van die boek en hoe die boek uitgelê is om sy storie op ‘n moderne en gemaklike wyse vertel word.

“Ek is baie bly dat sy ook van die sketse kon gebruik sodat mens die hele proses kan sien van hoe ek geïnspireer is en wat my denke was. Hierdie boek is ‘n bewys van wat ek alles bereik het en die plekke waar ek al was en die redes daarvoor.”

“Ek maak nou nog klere en kunswerke en ek hou daarvan om besig te bly,” voeg hierdie bedrewe 74-jarige kunstenaar by.

Opsommend is ‘Uit Die Huis van Cronjé Lemmer’: ‘n collage van kuns, klere & kletspraatjies,” ‘n inspirerende verhaal wat mense vanuit verskeie lewensperspektiewe uitdaag om hulle drome te kan volg en net soos Lemmer, hul eie bloudruk in die wêreld te plaas.

Lesers wat navrae het oor die boek of dit wil bestel, kan ‘n e-pos na info.cronjelemmer@gmail.com stuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button