Nuwe insig vir ES Le Grange
ES Le Grange kweek emosionele volwassenheid by hul leerders.
ES Le Grange het Wêreld Kinderdag gevier deur ‘n UNICEF-pretdag te hou. Die pretdag was geïnspireer deur UNICEF se 17 volhoubaarheidsdoelwitte en het 2 November plaasgevind.
Die fokus was geplaas op emosionele volwassenheid, en verskillende aspekte daarvan was met die leerders behandel.

Daar was stalletjies wat elkeen op ander aspek van emosionele volwassenheid gefokus het.
Circles of Belonging het die leerders gewys dat elkeen behoort en dat niemand alleen is nie.
Circles of Compassion het leerders gewys hoe om emosies uit te beeld en hoe om ‘n verskil in ander se lewens te maak deur deernis te bewys.
By die Shine stalletjie het leerders ‘n medalje gemaak wat hul sterkste eienskap uitbeeld en so geleer om lief te wees vir hulself.
Flying Goals het bestaan uit linte waarop leerders hul doelwitte geskryf het en dan aan ‘n tou vasgemaak het sodat dit in die wind kan waai. Dit het aan leerders bewys dat hul doelwitte vir hulself en hul toekoms moet stel.
Bang Jan/Dooie Jan het leerders gewys dat hul moed en selfvertroue moet hê in moeilike situasies. Daar is aan die leerders verduidelik dat hul in moeilike situasies nie dadelik moet reaggeer en ander seermaak nie, maar eers mooi die situasie moet deurdink.

Colour Your Heart was gebruik om leerders die kans te gee om hul emosies uit te beeld deur harte in te kleur en hul meer te leer oor verskillende emosies.
Anti-bullying was ‘n belangrike stalletjie waar kinders geleer het watter vorms boelie kan aanneem, hoe dit kinders beïnvloed, en hoe hul mekaar kan help en ondersteun wanneer iemand geboelie word.

Die liefdevolle leerders het die dag baie geniet en kon hul lewens met nuwe kennis en ywer aanpak.



