Tannie Babs vier 103 jaar met ‘n groot glimlag
Babs Cornelius (103), 'n inwoner van die Samuel Broadbent Aftreeoord, het nie net ‘n lekker groot verjaardagkoek en geskenke gekry nie, maar kon ook saam met haar familie en mede-inwoners lekker kuier.
Tannie Babs Cornelius sit rustig in haar stoel en peusel aan ‘n stukkie verjaardagkoek met ‘n string blou ballonne agter haar – die prentjie van vreugde en vrede.
Woensdag, 22 November was dit Tannie Babs se spesiale dag toe sy 103 jaar op aarde gevier het. Hierdie inwoner van die Samuel Broadbent Aftreeoord het nie net ‘n lekker groot verjaardagkoek en geskenke gekry nie, maar kon ook saam met haar familie en mede-inwoners lekker kuier.
Tannie Babs vertel dat sy die vorige dag ook gevoel het of sy verjaar toe sy saam met familie by Oudrift Lodge gaan eet het.
“Gister saam met die familie was baie spesiaal, maar vandag het ek glad nie verwag nie. Ek was baie verbaas oor hierdie bymekaarkoms. Ek hoor net hoe vertel almal hoe wonderlike mens ek is,” vertel sy beskeie oor al die goeie woorde van dankbaarheid wat sy ontvang het.
Al kan Tannie Babs, wat nog op ‘n hoë ouderdom aktief was, nie meer op haar eie loop nie, is sy steeds helder van verstand.
“Ek hou myself mooi besig. Ek kyk gereeld televisie en kuier met van my mede-inwoners. My dogter, Carlin, wat ook in Potch woon is goud werd en kom kuier gereeld vir my,” vertel Tannie Babs.