Local newsNewsNews

Poortjiedam is ‘n seer oog in Promosa

Inwoners in Promosa lewe in ondraaglike omstandighede as gevolg van riool-oorlopings.

“Poortjiedam is die enigste rekreasie wat inwoners in Promosa het,” so sê DA raadslid Hans-Jurie Moolman. “Inwoners het altyd met hul bootjies op die dam uitgegaan en visgevang.” Die dam sien nou verlate en oorgroei met riete daaruit. Moolman noem dat die riete as gevolg van die riool-oorlopings in die dam in so begin groei het.

Glenville Fransman, raadslid, verduidelik dat die gesondheidsrisiko nie beperk is tot Promosa nie. “Poortjiedam loop tot in Wasgoedspruit en Wasgoedspruit loop weer in die Mooiriver in.”

Moolman verduidelik dat die riool-oorlopings veroorsaak word deur ‘n woongebied wat uitgebrei is sonder dat die nodige infrastruktuur opgedateer is om die ekstra lading te kan hanteer. “Rioolstelsels werk met gravitasie,” verduidelik Moolman.

“Alles vloei na die laagste punt toe waar dit dan verwerk word of verder weggepomp word deur ‘n pomp. In Promosa is die laagste punt die Poortjiedam. Die pomphuis is ook by die dam. Wanneer die pomp gaan staan kook riool oor in mense se erwe wat op laerliggende gebiede bly en vloei in die dam in.”

Glenville Fransman en Hans-Jurie Moolman wys na ‘n moeras wat deur riool veroorsaak is. Foto: Cornelia Hitge.

Verder wys Moolman na riool wat sigbaar al lank lê. “Dis ‘n riool-moeras,” merk Moolman op en verduidelik dat die riool ondraaglike reuke veroorsaak.

Fransman beaam en wys na huise naby die dam. “Sien jy al hierdie huise is bottoe? Mense kan nie hul vensters of deure oopmaak nie want die reuk kom oral in.”

‘n Verbyganger merk op “Dis al ‘n paar jare wat dit so loop,” en wys na die sogenaamde riool-moeras

Daar loop ‘n voetpaadjie reg langs die riool-moeras verby, en Fransman noem dat ongeveer 50% van skoolkinders in Promosa die paadjie gebruik om by die skool te kom. Dit is uiters gevaarlik aangesien kinders en voetgangers kan inval en verdrink.

‘n Inwoner noem dat hy en sy gesin nie in die aande kan eet nie as gevolg van die riool-reuk wat verstikkend in die lug hang.

Daar is ‘n strook water gevul met riete wat vanaf die Poortjiedam tussen twee woongebiede deurvloei. Op die oog af lyk dit na ‘n riviertjie omring met voëls, maar Glenville korrigeer, “Dis ‘n riool-rivier. Voorheen was daar geen water of riete hier nie.”

Riool-oorlopings is egter nie beperk totmense se erwe en die dam nie, maar beïnvloed ook skole en Promosa se enigste sport-stadion. Blommetjiestraat blyk geteister deur riool-oorlopings. Die hoek van Blommetjiestraat en die Dassierand pad is bykans ‘n vleiland.

Die hoek van Blommetjiestraat en Dassierand pad is bykans ‘n vleiland as gevolg van die riool-oorlopings. Foto: Cornelia Hitge.

Fransman noem dat Herberg Kleuterskool in Blommetjiestraat soms so oorspoel dat kleuters nie skooltoe kan gaan nie, of deur riool moet loop om die skool binne te gaan. Buiten die riool-oorstromings hou Blommetjiestraat verdere gevaar vir skoolkinders in. Daar is oop mangate en stormdreine buite die skole waar kinders elke dag verbyloop en kan inval. Fransman noem dat dit verskeie kere al gerapporteer is, maar dat niks daaromtrent gedoen word nie.

Daar is oop mangate en stormwater-dreine in Blommetjiestraat. Hierdie oop drein is oorkant ‘n skool waar kinders elke dag verby loop. Foto: Cornelia Hitge.

Tekens van gereelde riool-oorstromings kan op Promosa se sportveld gesien word. Fransman wys na riete wat teen die sportveld begin groei het en merk op dat die riool van die sportveld af stroom en dan versamel langs die pad waar dit na ‘n vleiland begin lyk.
“Dit is ‘n ernstige misdryf,” sê Moolman, “Dis waarom ons so hard werk om dit reg te stel. Ons is hier om die mense wat nie ‘n stem het nie ‘n stem te gee.”

Riool-oorstromings vind plaas by die enigste sportstadion in Promosa. Foto: Cornelia Hitge.

Tsakani Makhari, omgewingsbestuursinspekteur, noem dat daar ondersoek ingestel is deur Liza Steyn-Keal, ook ‘n omgewingsbestuursinspekteur. Die ondersoek is aangevoer nadat die Departement van Water en Sanitasie verskeie klagtes ontvang het dat daar besoedeling plaasvind in JB Marks Plaaslike Munisipaliteit se gebied. Volgens die provinsiale direkteur het die munisipaliteit in Maart 2021, na ‘n inspeksie, ‘n representasie gelewer wat fokus op die probleme wat tydens die inspeksie gevind is. In dieselfde maand is ‘n opvolg-inspeksie uitgevoer waarna bevind is dat die munisipalieit nie al die probleempunte aangespreek het nie. ‘n Kriminele saak is teen die munisipaliteit geopen.

Omgewingsbestuursinspekteur Makhari noem dat die dossier saamgestel deur Omgewingsbestuursinspekteur Steyn-Keal tans geevalueer word voor dit aan die aanklaer oorhandig word.

JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder Jeanette Tshite sê dat die riool-oorstromings in Blommetjiestraat, Poortjie Dam en Promosa Sportgronde deur verstoppings in die hooflyn veroorsaak word. “Die uitdaging het aan die begin van hierdie reënseisoen begin, waar dit vir die instandhoudingspan moeiliker is om by die mangate binne die dam uit te kom om die blokkasies aan te spreek,” sê Tshite. “Weens die stygende vlakke van die dam dring die water die rioolmangate in en veroorsaak dus dat die lyn onvoldoende is om die vrag te dra. Wat ook as ’n bydraende faktor geïdentifiseer is, is die binnedringing van stormwater in ons stelsel.”

Tshite sê verder dat die instandhoudingspan al telkemale probeer het om die blokkasies te verwyder, maar dat daar minimale vordering plaasgevind het.

“Die Munisipaliteit kyk tans na die toepassing van alternatiewe oplossings. Die Munisipaliteit kyk na die implementering van permanente oplossings om die damsluishekke te rehabiliteer,” noem Tshite. “Dit sal help om watervlakke te beheer om dit makliker te maak om toegang te verkry tot mangate binne die Poortjiedam vir instandhoudingsdoeleindes, asook om die moontlikheid te ondersoek om die Hoofrioollyn op te gradeer en te herlei.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button