Local newsNewsNews

Vullis en korrupsie meng by Phelophela stortingsterrein

Verskeie onreëlmatighede by Phelophela stortingsterrein word deur DA raadslid Hans-Jurie Moolman aangespreek.

Phelophepha stortingsterrein is geleë buite Promosa en is vanaf 2018 ‘n doring in die vlees vir Potchefstromers.

DA raadslid Hans-Jurie Moolman sê die probleem het ontstaan in 2018 en 2019. “Die munisipaliteit se vullislorries het nie meer vullis kom haal nie en mense het begin om hul vullis buite die stortingsterrein af te laai.” Moolman vertel dat dit so erg geword het, die vullis het tot naby Promosa opgehoop. “Jy moes die vlieë gesien het,” merk Moolman op. “Die mense was omtrent geteister deur vlieë.”

“Vullis lorries was al die jare deur die munisipaliteit aangekoop,” verduidelik Moolman. “Die munisipaliteit het ‘n werkswinkel waar munisipale werktuigkundiges die lorries elke 5000km gediens het.”

“Daar is vermoedens dat dit ‘n selfgeskepte krisis is, want eweskielik kon vullis lorries nie meer vullis wegry nie. ‘n Kontrakteur was toe gehuur teen 1.4 miljoen rand per maand om vullis lorries te verskaf en die vullis lorries en vullis verwydering is uitgekontrakteur. Hierdie het vir ongeveer drie jaar aangehou. Die laaste bedrag wat bekend is, is 44 miljoen rand wat die munisipaliteit spandeer het om die trokke te huur.”

Moolman sê verder dat die munisipale burgemeester en speaker aan die media bekend gemaak het dat die munisipaliteit ‘n nuwe vloot vullis lorries aangekoop het, maar dat die huurbedrag per maand steeds betaal is. Moolman verwys terug na die tydperk wat mense self hul vullis buite die stortingsterrein gaan aflaai het, en sê dat ‘n maatskappy genaamd Ingwe aangestel was om die stortingsterrein op standaard te hou.

“Hulle was omtrent 1.5 miljoen rand per maand betaal, maar het na ‘n ruk opgehou om hul werk te doen maar is steeds betaal. Daar is vrae wat gevra moet word,” merk Moolman op. “Hoekom is Ingwe betaal sonder dat hul die werk doen? Was Ingwe aanspreeklik gehou vir hul versuiming om die werk te doen? Waarom was dit in die eerste plek uitgekontrakteur, waar is ons interne kapasiteit?”

Verder vertel Moolman dat omgewingsbestuur die saak ondersoek het en ‘n direktief aan JB Marks Munisipaliteit gestuur het om hul kans te gee om die saak reg te stel voor hul vervolg word. “Die munisipaliteit het toe ALS aangestel om binne en buite die stortingsterrein alles op standaard te bring.” Moolman sê dat ALS uitstekende werk gedoen het, soveel so dat die stortingsterrein met 80% aan die omgewingsbestuur-vereistes voldoen het.

“Dit was tot twee maande gelede. Die tender is toe aan ‘n Limpopo-maatskappy gegee. Ek verstaan nie hoekom nie want ALS het baie goeie werk gedoen, en buiten dit is daar baie plaaslike ouens wat gekontrakteur kan word. Waarom die tender aan ‘n Limpopo-maatskappy gee?”

Moolman vertel dat in 2021 is ‘n proses deur die munisipaliteit begin om tenders uit te gee vir die bestuur van die stortingsterrein. “Geen afsprake was gemaak nie, alhoewel gekwalifiseerde diensverskaffers aansoek gedoen het. Die proses is gestop en nou is die tender aan die Limpopo-maatskappy gegee.”

“Daar is tans drie selle waarin vullis gestort kan word. Een van hierdie selle is op volle kapasiteit. ALS het ‘n spasie tussen sel twee en drie gemaak om meer kapasiteit vir vullis te skep,” vertel Moolman en verduidelik dan die proses. “Vullis word in die selle gestort, gelyk gemaak en gekompakteer. Dit word dan met grond toegemaak. Daar is seile onder aan die selle wat die vullis-water opvang en afvoer na ‘n dammetjie. Die water versamel in die dammetjie en verdamp dan deur sonlig.”

Moolman vertel dat ‘n vierde sel geskep moet word om die stortingsterrein se kapasiteit te vergroot. Oral op die stortings terrein lê hope vullis. Moolman wys daarna en sê, “Toe ALS hier was het dit nie so gelyk nie. As jy na die omgewingswette gaan kyk is hierdie ‘n misdaad.”

Hans-Jurie Moolman merk op dat die stortingsterrein nie aan omgewingsvereistes voldoen nie. Hier is ‘n oop vuur sonder die nodige veiligheidsmaatreëls. Foto: Cornelia Hitge.

*Die munisipaliteit kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button