Local newsNewsNews

Snowflake-eienaar stomgeslaan na aanval

Die eienaar van die Snowflake-gebou, Albert Bothma, se elmboog moes geopereer word nadat hy buite sy gebou deur ‘n man se lyfwag aangerand is. Dit nadat die man sonder toestemming teer op Bothma se perseel gestort het.

Die eienaar van die Snowflake-gebou, Albert Bothma, se elmboog moes geopereer word nadat hy buite sy gebou deur ‘n man se lyfwag aangerand is.

Dit nadat die man, net bekend as ‘John’ en sy handlangers, sonder Bothma se goedkeuring bitumen (teer) voor die Snowflake-gebou gestort het.

Bothma is gedreig en kort daarna deur die lyfwag met die vuis bygedam.

Hy het ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Na twee maande is daar egter steeds geen vordering nie, omdat die skuldiges nie opgespoor kan word nie.

Bothma se nagmerrie het begin toe hy ‘n man, wat homself as ‘John’ voorgestel het, Maandag, 11 September vlugtig ontmoet het. Dit terwyl Bothma met ‘n belangrike personeelvergadering besig was.

“John”, wat volgens Bothma ‘n ouer man met ‘n sterk Britse aksent is, het genoem dat hy ‘n spesiale prys op bitumen het, waarna Bothma vir hom genoem het dat hy belangstel. Daar was egter geen formele ooreenkoms en geen kwotasies is gegee nie.

Geen kontakbesonderhede is ook tydens die gesprek uitgeruil nie. “Die veronderstelling was dat ons later weer ‘n ontmoeting sou reël om verdere besonderhede oor moontlike projekte te bespreek,” verduidelik Bothma.

Vrydag, 15 September het ‘John’ en sy span bitumen op die perseel gestort. Bothma het die aansienlike vars hoop bitumen gesien waaruit die stoom nog getrek het. Hy het op kringtelevisiebeeldmateriaal toe vasgestel dat dit wel John en sy span is.

“Ek het toe in my voertuig geklim en om die gebou gery om te kyk dat ingange nie geblokkeer is deur die bitumen nie. Op daardie stadium het ‘n wit Izuzu bakkie met ‘n klomp werkers die perseel betree. Ek het die vragmotor se bestuurder gekonfronteer en hom meegedeel dat ek nie die aflaai van bitumen goedgekeur het nie.”

Daarna het die vragmotorbestuurder vir sy toesighouer, die ene ‘John’ gekontak waarna hy in ‘n rooi BMW gestop het. ‘John’ het sy hand uitgesteek en Bothma verbaal gedreig dat sy lyfwagte hom sou aanrand.

Die lyfwag het hom toe uit die bloute met die vuis teen die wang geslaan.

“Dit was net ongelooflik en ek het dit glad nie verwag nie. Ek het toe gesteier om verdere konflik te probeer vermy. In die proses het ek my balans verloor en hard op my elmboog geland. Kort daarna het hulle weggery en my net so gelos. My personeel het toe ook uitgekom om te kom help,” vertel Bothma.

Weens sy beserings ervaar hy baie ongemak en pyn. Sy elmboog is geopereer, waarna daar ook ‘n velsakkie gevorm het as gevolg van die wondtrauma. Bothma moes na die operasie ‘n dreineringspyp ronddra om vloeistof uit sy elmboog te dreineer.

“Dit is baie ongemaklik, veral in die ekstreme hitte. Buiten die fisiese pyn is dit ook nie lekker om te weet dat so ‘n nare ding gebeur het nie en dit voor klante en mense wat daar verbygery het,” noem hy.

Bothma is van mening dat hierdie mense moontlik deel van ‘n konstruksie-sindikaat kan wees wat materiaal steel en dan op onskuldige mense se persele stort.

“Die hele situasie is vir my baie vreemd en ek vermoed dat die man by onwettige aktiwiteite betrokke is. Ek is steeds stomgeslaan oor alles. Die man het met ons eerste ontmoeting vriendelik voorgekom. Hy het ‘n liggaamlike gebrek met die dat hy ook met ‘n kierie geloop het. Ek het geen idee wie die man is of waar hy vandaan kom nie,” vertel Bothma.

Volgens NW polisiewoordvoerder, kol. Adele Myburgh is ‘n saak van aanranding ondersoek, maar polisie kon nie die individue opspoor nie, aangesien die nommerplate van die motors na vals adresse lei.

“Die ondersoekbeampte het die registrasienommers opgevolg, maar kon glad nie die individue opspoor nie. Die dossier is op 7 November vanjaar afgesluit, maar met enige nuwe inligting kan die saak weer heropen word,” verduidelik Myburgh.

Volgens Myburgh kan die gemeenskap rakende inligting oor die rooi BMW met registrasienommer (HY 57 BZ GP) of enige ander inligting vir kapt. Lizette Ferreira by 082 376 8778 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button