Onregmatige okkupasie steeds ‘n kwessie vir omliggende inwoners
Die inwoners beweer dat mense daar onwettig bly en dat hulle veiligheid en die waarde van hul eiendomme ook in die slag bly, weens die beweerde negatiewe konnotasies wat hierdie woonhuis het.
Inwoners in die omgewing van die Westerhof gemeenskaplike woonhuis in Beyers Naudelaan 153, sit steeds met hulle hande in hulle hare.
Die inwoners beweer dat mense daar onwettig bly en dat hulle veiligheid en die waarde van hul eiendomme ook in die slag bly, weens die beweerde negatiewe konnotasies wat hierdie woonhuis het.
Die Herald is in besit van ‘n munisipale verslag waar daar genoem word dat die gebou as onveilig verklaar is weens ‘n brand wat op 11 Mei 2022 ontstaan het.
Volgens hierdie verslag moet die dak en die krake in die struktuur eers herstel word.
Die Herald het die eienaar se seun, mnr. Willie van der Westhuizen, wat as kurator van die eiendom optree, oor die probleem gekontak.
Hy het bevestig dat hy reeds ‘n saak by die polisie vir kwaadwillige saakbeskadiging en diefstal aanhangig gemaak het. Die saak word nog ondersoek.
Die Herald het met ‘n plaaslike prokureur, Hans-Jurie Moolman, gesels, om uit ‘n regsperspektief na die situasie te kyk rakende onregmatige okkupasie, soos die inwoners rondom die woonhuis beweer.
Volgens hom hang dit af of daar ‘n mondelinge of skriftelike huurkontrak gesluit is tussen die eienaar en die huurders. As daar onregmatige okkupeerders is, kan ‘n uitsettingsbevel verkry word ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998)
“Daardie wet skryf ‘n proses en die vereistes voor. Daar is twee tydperke ter sprake waar ‘n onderskeid tussen die status van persone getref word.
As ‘n persoon korter as ses maande op die perseel bly, moet die hof, kinders, ouer persone en vrouens wat aan die hoof is van ‘n huishouding, in ag neem.
As dit langer as ses maande is, moet die hof in ag neem of daar alternatiewe akkommodasie ter sprake is,” noem Moolman.
Op siviele vlak noem hy dat ‘n uitsetting deur ‘n hofbevel moet geskied.
Die munisipaliteit moet ‘n verslag voor die hof plaas. Daar moet ook gekyk word na alternatiewe behuising of noodbehuising in die geval as mense uitgesit word. In sekere gevalle kan hul ook tydelik in tente geplaas word.
“Op kriminele vlak is dit ‘n misdryf om iemand se grond of gebou sonder toestemming te betree. Daarvoor kan kriminele klagtes aanhangig gemaak word. Die aangrensende eienaars het ‘n reg om die munisipaliteit te dwing om die eie plaaslike wetgewing oor grondgebruik en veiligheid af te dwing. Daarvoor kan selfs ‘n hofbevel gevra word.
Die geregistreerde eienaar van die perseel dra ook verantwoordelikheid
As jy ‘n eiendom het mag jy doen wat jy wil, totdat dit ‘n oorlas is –dit beteken dat dit optrede is wat onredelik is en op die regte vanander mense inbreuk maak,” noem Moolman.
Volgens Moolman is dit ook belangrik om gebeure te dokumenteer in ‘n voorvalleboek of
op WhatsApp op rekord as bewys te stel.



