Local newsNewsNews

Uit Piet se Pen: Gee hom vet, ou Volla!

Ons is nou op jagstories en ek vertel ‘n storie van jare gelede toe vier manne met ‘n ou Fordjie jagveld toe is. Dis nou voor die dae van 4x4.

Die jagseisoen staan einde se kant toe, maar die middag toe ek en ander Piet en Hennie die ergste van die winter se stowwerigheid daar in ons gunsteling taphuis afspoel, sien ons etlike vier by vier voertuie swaar gelaai met kamptoerusting en yskaste deur ons dorp
ry.

Almal op pad jagveld toe. Ander Piet se hy kon sweer hy het agter op een van die bakkies ‘n blond sien uitloer.

“Seker maar toevallig,” sê hy maar hy wonder of dit nie een van die niggies is wat hulle dienste adverteer vir jagnaweke nie.

“Dis dalk diè dat sy so half toegemaak word, agter op die bak. Was dit familie, sou sy voor gesit het,”
is sy afleiding.

Ons is nou op jagstories en ek vertel ‘n storie van jare gelede toe vier manne met ‘n ou Fordjie jagveld toe is. Dis nou voor die dae van 4×4.

Die wild is volop en die skote klap, die biltong word gedroog en dit gaan goed. Toe kom die teenspoed op volspoed.

Hulle skraap ‘n gemsbok en in die jaagtog tref die Fordjie se oliebak (sump) ‘n klip, die olie loop uit en die Fordjie slaan bearings. Staan morsdood stil daar in die veld.

Gelukkig is een van die manne baie handig en trek die spênners nader, “drop die sump” en vervang die bearings met ‘n velskoen se blousool. Die blousool sal werk, maar het tog smering nodig.

Spaar-olie is daar nie en na kajuitraad word op ‘n volstruis besluit om die smering te verskaf. Een word platgetrek en die volstruisvet word uitgebraai en in die Fordjie se enjin gegooi, Hulle vertel
dat die Fordjie so ‘n vis-en-tjips reukie gehad het.

Die tog word voortgesit tot by die kampplek. Die volgende oggend is daar ‘n probleem: Die Fordjie se enjin weier summier om te draai. By nadere ondersoek blyk dit dat die volstruisvet kliphard geword het. Hoe nou gemaak?

Jagter laat hom nie onderkry nie en hulle stoot die Fordjie oor die vorige aand se braaikole. Na so tien minute swaai die enjin lustig en so gaan dit toe tot terug by die huis: stop, braai, kuier en slaap.

Is die storie waar? My informant sweer dis waar. Hy sê sy oupa was
die mekênniek. So op die einde van die storie kom Ben ingestap en hy vertel weer van vier jagters wat die pad Bosveld toe gevat het, sommer net
so’n jaar of wat gelede.

Ben sê dit het jolig gegaan en die voggies het gevloei.

So erg dat die voorman van die groep besluit het om op Northam te stop sodat daar eers iets geëet gaan word. Hy stop en stuur die manne uit: een moet wors koop, ‘n ander brood en die ander een ‘n
sak houtskool en aanstekers. Hy self het die vogvoorraad gaan aanvul.

So ‘n entjie buite die dorp is daar ‘n braaiplek en hy stop. Dis byna donker maar die aanstekers word vlamgemaak en die houskool kom sommer sak en al op. Die vloeibare versnaperinge
vloei weer sterk.

Die voorman raak bekommerd oor die gebrek aan kole by die vuur en toe hy ‘n vuurhoutjie trek
sien hy dat daar ‘n sak Dogmor op die aanstekers lê. Wat presies verder gebeur
het, weet hy nie, of wil hy nie vertel nie, behalwe dat hulle twee dae laat by die
jagplaas opgedaag het.

Ander Piet sluit die middag se verrigtinge af deur te sê: “En dit was wragtig ‘n mooi blond agter op daai bakkie.”

Related Articles

Back to top button