Local newsNewsNews

SETH vier 10e bestaansjaar

SETH-Akademie, aangebied deur Hoërskool Ferdinand Postma en die Noord-Wes Universiteit vier die 10e bestaansjaar van die program en gesels oor wat SETH behels.

Science, Engineering, Technology & Health, beter bekend as SETH, het op 27 Oktober 10 bestaansjare gevier. “Dit was ‘n pragtige funksie wat die besige SETH-jaar op die regte noot afgesluit het,” sê Nadia Botma, SETH-bestuurder.

SETH is ‘n middagprogram wat Ferdinand Postma Hoërskool in samewerking met die Noord-Wes Universiteit anbied.

SETH leerders besoek die Wetenskapsentrum op die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus. Foto: Verskaf.

Ferdies is die enigste skool in Noordwes wat SETH aanbied. SETH is ‘n ongelooflike voertuig om die gaping tussen skool, universiteit en die beroepswêreld te verklein. Dit was die breinkind van Mnr. André Hatting en Me. Elza Hatting wat werk by die Ingenieursfakulteit, NWU. Die aanvanklike idee was om die tekort aan studente in rigtings waar Wiskunde en Fisiese Wetenskappe krities is, aan te spreek. Die fokus was op Ingenieurswese studente, maar het ook later verskuif na ander rigtings soos Gesondheidswetenskappe. Tans is SETH daarop gefokus om afgeronde leerders te lewer wat kennis oor ʼn verskeidenheid van velde het. Lewensvaardighede soos finansiële wysheid, aanbiedingsvaardighede, entrepreneursvaardighede, projekbeplanning- en bestuur, koderingsvaardighede en meer word deur SETH bespreek.

Tydsbestuur, kommunikasie, konflikhantering en emosionele intelligensie is vaardighede wat deur SETH gestimuleer word.

SETH bestaan basies uit 2 bene; verryking en beroepsvoorligting. Die verrykingsdeel gee leerders geleentheid om hul punte te verbeter deur weeklikse klasse in Wiskunde en Alpha Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, sowel as lees. Beroepsvoorligting word uitgevoer deur aktiwiteitsessies. Leerders gaan op uitstappies, doen projekte en woon sessies by waar hulle waardevolle inligting ontvang vanaf verskillende kenners vanuit ʼn verskeidenheid beroepe binne hierdie vier SETH-velde. Dit help ten einde ons leerders om meer ingeligte beroepskeuses te maak. Binne SETH is daar so baie geleenthede vir leerders om persoonlik te groei en te ontwikkel, deur ʼn studiemetodekursus, temperamentontleding en selfbewuswording, asook ʼn kursus in aanbiedingsvaardighede. SETH-leerders bemeester sagtevaardighede wat spanwerk, projekbeplanning en -bestuur, tydsbestuur, probleemoplossing, emosionele intelligensie ens. insluit.

Gr. 8 tot Gr. 12 het elkeen ʼn spesifieke tema of uitkoms waartoe elke aktiwiteitsessie in dié spesifieke graadgroep bydra. Gr. 8 se tema is “Leer om te verken”, sodat  leerders besef elke tree buite die deur is ʼn geleentheid om te leer en te ontdek. Gr. 9 se tema is “Ontdek verskillende beroepsvelde”, aangesien dié leerders aan die einde van Gr. 9 vakkeuses moet maak. Gr. 10 moet leerders kan sien dat die verskillende velde geïntegreerd is en daarom is hul tema “Sien die groter geïntegreerde prentjie”. Gr. 11-leerders moet alles wat hul tot op hede geleer het kan toepas en daarom is hul jaartema “Toepassing binne die groter geïntegreerde stelsel”. Gr. 12 is al die sessies daartoe gerig om leerders finaal toe te rus met wat hul nodig het vir die volgende stap en daarom is hul tema “Finale afronding”. Al hierdie uitkomste bou ten einde tot die groter doelwit wat is om ʼn individu te lewer wat toegerus is vir die uitdagings van die volwasse wêreld en wat ʼn positiewe impak kan maak tot die groter gemeenskap.

Related Articles

 
Back to top button