UIt Piet se Pen: Terug Carnarvon toe
'n Skrumkompetisie teen 'n Carnarvonner sorg vir groot sports.
Daar sit ons toe weer die aand in ons gunsteling kuierplek.
Dis nou ek en Piet en Hennie, toe daar ‘n vreemdeling instap. ‘n Mens ken gewoonlik ‘n vreemdeling sommer so aan sy “askies-ek-is-hier-houding”, maar die een was al tuis.
Die tapmeester deel ons toe mee dat die man sy bus verpas het, glo te lank in die kleinhuisie was en so nie sy tog Carnarvon toe kon voortsit nie. Die volgende bus is eers oor twee dae.
Dis maar stil die aand en ons drie praat maar oor karre en 4×4 en modifikasies vir meer vastrap teen die steiltes op.
Die hansvreemdeling skuif so stadigaan nader: elke keer as hy ‘n draai gaan loop sit hy nader. Ongevraag lê hy ook ‘n eier oor klou-en-grou, want hy is nou eintlik ‘n meester in die sport.
Daar sit hy sy voet baie diep in, want sien, Piet en Hennie is nasionale kampioene. Toe hy nou agterkom hy is uit sy diepte, slaat hy oor rugby toe. Glo in die voorry gedruk vir Noordoos-Kaap.
Ons luister maar na sy praatjies maar hy raak effe uitdagend en hy daag enige een van ons uit om teen hom te skrum.
Ons ignoreer hom eers, maar sy skimpe en opmerkings van “sissies” raak net te veel en Hennie, die jongste van ons drie, besluit om hom aan te vat. Piet word aangestel as skeidsregter en die reëls word opgestel: Piet sal drie tel dan kan die manne begin skrum.
Ewe dramaties word die “bootse” opgewarm op die koue teëlvloer, soos die Grand Prix ook mos maak.
Die twee sak en Piet tel, maar hy was nog halfpad met drie- omtrent nog net die D en die R uitgekry, toe steel die Carnarvonner vir Hennie en stoot hom teen die toonbank vas.
Dis toe dat ek my heeltemal erg. Ek maak my Hitec’s lekker warm en ons sak.
Hy haal weer sy triek uit en steel voor die I en die E gesê is.
Ek waarsku hom baie vriendelik dat ek hom behoorlik gaan donner as hy dit weer doen en ons sak weer. Ons wag albei vir die E en toe vat ek hom: eers teen die sigaretmasjien vas, toe die toonbank, die Coke-yskas het amper skade gekry voor hy bes gegee het. Voor die Carnarvonner behoorlik kon seerkry, roep Piet halt.
Ons kry weer ons sit maar toe moet die mannetjie laat hoor van “onwettige skrumtegniek”,” bevooroordeelde skeidsregter”, “nat kolle op die vloer” en so hou hy aan.
Ek staan reg vir ‘n volgende sessie, maar Piet keer.
Ons drie is toe later daar uit en toe ons die volgende laatmiddag inkom, vra ons die tapmeester waar die man is.
Hy vertel ons dat die kêrel al die oggend kom groet het en besluit het om duim te ry Carnarvon toe “voor hy tot daar geskrum word”