Local newsNewsNews

Oop erf in Kockstraat ‘n groot kopseer vir inwoners

'n Vervalle huis in Kockstraat skep 'n veiligheids-en gesondheidsrisiko vir inwoners in die area.

‘n Oop erf in Kockstraat 67 laat ‘n wrang smaak in die monde van bure en omliggende inwoners weens die feit dat dit deur haweloses bewoon word en erg verwaarloos is.

Sedert die vorige inwoners drie jaar gelede  uit die huis getrek het en die huis verkoop is, het alles begin verval. Daar was glo planne dat die huis in ‘n meenthuis omskep sou word, maar na twee jaar het daar nog niks gebeur nie.

Intussen is die huis geplunder, die dak afgebreek en talle koperpype en waardevolle items is glo ook gesteel.

Die Herald was verlede Donderdag, 7 Desember by die huis saam met Roland Bekker, ‘n inwoner in Kampstraat, wie se huis aan hierdie erf grens.

Met die Herald se besoek kon daar gesien word hoe die huis uitmekaarval. Die mure is onder meer afgebreek, die swembad met lang gras oorgroei en die tuin is vol bossies. Daar is rommel wat oral op die terrein lê, terwyl die badkamer slegs ‘n toilet oor het. Die vloer is ook met gemors besmet.

“Hier was ‘n geiser, maar dit is ook intussen saam met koperpype, krane en nog meer gesteel,” vertel Bekker, terwyl hy na die vervalle toestand van die badkamer wys.

“’n Mens kan duidelik sien dat hier mense woon as mens na die klere op die vloer kyk. Misdadigers wat steel gebruik ook hierdie erf om weg te kruip omdat die plante en bosse dig is,” verduidelik Bekker, wat self ook al onder hierdie misdadigers deurgeloop het.

Al die inwoners om die huis moes hulle sekuriteit opgradeer sodat die misdadigers nie hul huise teiken nie.

“Op ‘n stadium het van die haweloses ook onder die lapa kampeer. Daar was ook ‘n paar gevalle wat boewe gasbottels en ander gereedskap gesteel het. Dan is dit maklik in en uit oor die muur in die oop erf in,” verduidelik Bekker.

Volgens hom is dit belangrik dat die erf skoongemaak word sodat die area beveilig kan word en verskeie insekplae, rotte en slange ook verwyder kan word.

“Ons sukkel vreeslik met rotte, slange en insekte wat ‘n gesondheidsrisiko skep. Die rotinfestasie is veral baie erg. Ons kry daagliks rotte in ons erf. Dit is sleg vir ons as inwoners wat nou daagliks met hierdie seer oog moet sit.

Hierdie was ‘n baie mooi huis, maar nou is daar omtrent niks daarvan oor nie.”

Dit is nog onseker wie die eienaar van die erf is.

*Die Herald het die J.B. Marks munisipaliteit vir navrae genader, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button