Local newsNewsNews

Waar spandeer jou diere Kersfees?

Troeteldiere het verskillende vlakke van versorging nodig, dus is dit belangrik dat jy vroegtydig voorsiening maak.

Met die skoolvakansie en feestydperk om die draai gaan baie Potchefstromers vertrek na verskeie vakansiebestemmings. In baie gevalle is daar honde of katte, of selfs albei, wat moet agterbly en nie die avontuur gaan meemaak nie.

Net soos mense verskil diere baie van mekaar, dus het verskillende diere verskillende vakansieplanne nodig. Sommige diere het net iemand nodig om elke paar dae oor die hek te loer en seker te maak daar is nog kos, terwyl ander meer intensiewe aandag nodig het.

Millie is ‘n Jack Russel wat baie afhanklik is van mense-interaksie en dis vir haar swaar om agter te bly wanneer haar gesin op vakansie gaan. Foto: Cornelia Hitge.

Indien jy iemand is wat wonder hoe gemaak met Stoffel en Mollie wat agterbly het Theo Koekemoer, bestuurder by PAWS, raad vir jou.

“Daar is deesdae baie troeteldier-oppassers in die dorp,” vertel Theo. “Mense kan op Facebook gaan kyk want baie oppassers adverteer daar.”

Dis belangrik om jou troeteldiere te ken en voorsiening te maak vir wat hul benodig. Foto: Cornelia Hitge.

Theo vertel dat sommige oppassers in jou huis jou diere oppas, terwyl ander weer ‘n paar keer per dag ‘n draai kom maak. “Daar is selfs oppassers wat jou diertjies na hul huise toe vat, dan is dit ‘n heerlike uitstappie vir jou diere.”

Theo sê verder dat die oppassers se tariewe verskil. “Jy kan self besluit watter tipe oppasser jy wil hê en dan kan jy dit self met die oppasser bespreek.”

Indien jy ander opsies wil hê, stel Theo Tiptop Kennels voor. Tiptop Kennels kan beide honde en katte akkommodeer.

Maak vroegtydig voorsiening vir jou troeteldiere hierdie feesseisoen sodat hul veilig en gelukkig is terwyl jy op ‘n strand of in die Bosveld ontspan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button