YADSA hou optog in Promosa
YADSA het 'n optog gehou om die jongmense van Promosa weg te kry van drank- en dwelm-misbruik.

Youth Against Drugs and Substance Abuse (YADSA) het op 9 Desember ‘n optog in Promosa gehou.
Die doel van die optog was om die erns van dwelm en alkohol-misbruik by die jongmense in Promosa tuis te bring.

Lebogang Phakisa vertel met ‘n hartseer uitdrukking dat Laerskoolkinders in Promosa dwelms gebruik. Vir die gemeenskap is dit ‘n groot bekommernis aangesien dwelm-misbruik in kinders tot soveel ander slegte goed lei wat hul lewens heeltemal kan ontspoor.

Kinders tussen die ouderdomme van 3 en 18 het die optog met tuisgemaakte plakkate meegemaak. Verkeersbeamptes het die optog begelei, en tesame die krete van die kinders en YADSA-lede in die gemeenskap uit hul huise gelok om te sien wat aangaan. Kinders het op die sypaadjies kom staan en die optog met groot oë dopgehou. Selfs honde het oor heinings geloer om te sien waar die geluide vandaan kom. Op die manier het baie mense in die Promosa gemeenskap die boodskap gehoor.

Pastoor Dez Fransman het op die halfpad-merk vir die jongmense van Promosa gebid. Dit was ‘n roerende oomblik toe almal wat aan die optog deelneem hande vat en saambid. Pastoor Dez het gebid vir alles waardeur jongmense geteister word; dwelms, drank, geslagsgebaseerde geweld, tiener-swangerskappe, skoolverlating, en vele meer.

Die optog het deur Promosa se strate gegaan tot by Promosa Stadsaal. By die Stadsaal gekom is inspirerende, opvoedkundige sessies deur sprekers aangebied.
Sister Setta het die sessies geopen met gebed waarna Xavier Mokwena die doel van die dag met die jongmense bespreek het. Kelly Ann Essop, ‘n verteenwoordiger vir SANpark was ‘n gasspreker, asook Mnr Kriel en Mnr Yikumba Andreas van die Noord-Wes Universiteit se Studente-raad. Sersant Johan Muller van die SAPD is ‘n kenner in die dwelm-gebied, en het ook ‘n sessie aangebied. Daar was ‘n spreker van Ikageng se krisis-sentrum ook.
Die doel van die sessies was om jongmense te motiveer en bekragtig om ‘n beter lewe weg van dwelms en alkohol te kies.




