Versag die Nuwejaar-knal vir jou diere
“Hou jou diere in ‘n donker, rustige kamer wat redelik klankdig is,” stel Theo Koekemoer voor. “Jy kan dalk ook ‘n radio aansit of musiek speel om die harde klanke van klappers en vuurwerke te breek.”
Binne ‘n paar weke gaan daar klappers geskiet word om die nuwe jaar te verwelkom. Potchefstroom is ‘n gemeenskap wat lief is vir diere en weet dat Nuwejaar ‘n moeilike tyd is vir troeteldiere.
PAWS-bestuurder Theo Koekemoer het raad vir alle diere-eienaars wat wonder hoe gemaak om my hond kalm te hou.
“Vroegtydige voorsorg is baie belangrik,” verduidelik Theo. “Jy ken jou diere, en jy weet hoe hulle op harde geluide reaggeer.
Indien jy ‘n nuwe eienaar is kan jy jou dier na ‘n veearts vat om te bepaal wat jou dier gaan nodig hê om kalm te bly.”
Theo noem dat Calm-eze ‘n medikasie is wat jy vir jou diere kan gee om hul kalm te hou. Calm-eze word nie deur PAWS aangehou nie, maar is by Catbox en privaat veeartse betrokke. “Calm-eze is egter net vir gemiddelde gevalle. As jy weet of vermoed dat jou dier redelik of ver buite sy normale gedragspatroon optree wanneer dit angs ervaar, besoek jou veearts en bespreek ‘n medikasie wat jou dier kan help.”

tref voortydig voorsorg. Foto: Cornelia Hitge.
“Angs moet nie onderskat word nie,” sê Theo verder. “Ek het al erge goed gesien. Honde wat stukke uit deure uitgebyt het of daai dun tralies gebuig het soos hul dit byt. Dis baie erg. Jy moet jou dier ken en voorsorgmaatreëls tref om te keer dat jou dier so beseer word.”
PAWS Veearst dr. Alex Cato stem saam. “Honde sal deur vensters spring, deure stukkend kou, tralies buig en meer as gevolg van angs. Jy moet jou dier beskerm teen dit. Veeartse kan sterk kalmeermiddels voorsrkyf vir diere wat ekstreme angs aanvaar.”
Dr. Cato stel voor dat diere-eienaars ‘n konsultasie doen by ‘n veearts sodat die veearts kan bepaal watter kalmeermiddel geskik sal wees vir jou hond.
Theo beam dit en sê ‘n konsultasie vir die regte medikasie is belangrik, aangesien diere, net soos mense, verskillende reaggeer op dieselfde medikasie. Theo sê verder dat Potchefstromers welkom is om hul diere PAWS toe te bring vir ‘n konsultasie.
“Ek wil beklemtoon dat Calm-eze net gaan werk indien jou diere gematigde reaksies het teenoor harde klanke,” sê Theo. “Calm-eze is nie die maklikste uitweg nie.”
Buiten die regte medikasie is daar ander voorsorgmaatreëls wat diere-eienaars kan tref om hul diere gemaklik en rustig te hou deur die klapper-geknal. “Hou jou diere in ‘n donker, rustige kamer wat redelik klankdig is,” stel Theo voor. “Jy kan dalk ook ‘n radio aansit of musiek speel om die harde klanke van klappers en vuurwerke te breek.”

Foto: Cornelia Hitge.
Angs kan ‘n groot emosionele uitwerking op honde en katte hê, “Na so ‘n episode van angs is hul vir dae nie hulself nie,” vertel
Theo en moedig diere-eienaars aan om hulp te kry vir hul diere indien hul so ‘n angsepisode gehad het. “Diere kry hartskade van die ekstreme angs wat hul ervaar, dus is dit uiters belangrik om hul osver moontlik rustig en kalm te hou,” verduidelik Theo.
Nuwe eienaars wat nie bekend is met angs-gedrag nie kan uitkyk vir die volgende verandering in gedragspatrone. “Die diere loop baie op en af en soek oral wegkruipple, veral katte. Diere kan begin hiperventileer of selfs buitengewoon aggressief optree,” noem Theo. PAWS en Potchefstroom staan saam tydens Kersaand en Nuwejaar om diere te help. “Daar is ‘n vrywilligerreddingsgroep wat in die strate rondry en
patroleer saam PAWS vir diere wat ontsnap in angs-episodes,” sê Theo. “PAWS se veeartse is ook op bystand tydens Kersaand en Nuwejaar.”
“Vorige jare is daar tot 32 diere ingebring,” vertel Theo. “Daar is geen terugeisingsfooi betaalbaar indien jou dier op een van die aande gevang is nie.” Theo vra dat mense asseblief mooi na hul diere moet kyk en moet omsien na hul emosionele welstand.
Indien jy belangstel daarin om ‘n vrywilliger te wees tydens Kersaand en Nuwejaar, kontak Theo by 071 681 9264.



