NewsNews

AfriForum eis munisipale bestuurder se bedanking

Dit is lekker dat inwoners van Ikageng, Promosa en Mohadin ook na ons toe uitreik vir hulp en ek glo hulle staan saam met ons in hierdie stryd,”

AfriForum doen ’n beroep op Kgomotso Kumbe, die munisipale bestuurder van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit, om te bedank.

Volgens Afriforum is die rede vir dié beroep omdat Kumbe glo geen plan het om dié sukkelende munisipaliteit te red nie. Die AfriForum-tak in Potchefstroom, Kumbe, en die direkteure en afvaardigings van verskeie afdelings in die munisipaliteit het op 8 April oor die probleme in Potchefstroom vergader.

“Kumbe het die vergadering aangevra na aanleiding van die dringende brief wat AfriForum die vorige week by sy kantoor oorhandig het. In dié brief het AfriForum die haglike toestand waarin Potchefstroom tans verkeer bekla en dringende ingryping van die munisipaliteit gevra,” sê die burgerregterlike organisasie in ‘n verklaring.

In die vergadering het elke direkteur ’n plan voorgelê waarin verduidelik is hoe die toestand in Potchefstroom gaan verbeter word. Daar is beloof om hierdie beplanning teen 14 April aan AfriForum te stuur, maar sedertdien is niks ontvang nie.

Ná afloop van die vergadering het AfriForum dadelik weer ’n brief aan Kumbe gerig waarin hy versoek is om oorweging te skenk daaraan om liewer af te staan, aangesien hy nie ’n plan het om die munisipaliteit te red nie. Indien hy wel besluit om aan te bly, het AfriForum die volgende wenke aan hom gegee wat sal help om Potchefstroom van ondergang te red:

 

  • Daar moet dringend aandag gegee word aan korrupsie binne die munisipaliteit. Die Eskom-skuld het in minder as twee jaar van R0 na meer as R500 miljoen geklim. Dit terwyl baie mense nie vir krag betaal nie, omdat munisipale amptenare onwettige aansluitings teen ’n fooi vir hulle doen. Hulle gebruik dus soveel krag moontlik en betaal net die amptenaar ’n fooi elke maand. Dit is slegs een voorbeeld van talle korrupsie wat binne die munisipaliteit plaasvind.
  • Werkers moet toegerus word vir hulle take. Hulle moet kry wat hulle nodig het om hul werk te doen, maar dan moet elkeen verantwoordelik gehou word vir die toerusting wat ontvang word. Bekwame opsigters moet aangestel word om toesig te hou oor die werkers. Dit sal oortyd werkery beperk en dit moet ook net tydens noodgevalle toegelaat word. Bekwame mense moet in die regte posisies aangestel word, wat die gebruik van kontrakteurs sal beperk. Indien die werk self gedoen kan word, kan die nodige toerusting met die geld wat aan kontrakteurs betaal word, aangekoop word. Op AfriForum se vraag of die organisasie insae kan hê in die tenderprosesse, is onmiddellik negatief gereageer maar die wet maak voorsiening daarvoor dat die gemeenskap insae mag hê.
  • Die munisipale bestuurder moet klagtes lê teen kabeldiewe wat gevang word. Die feit dat hy nie klagtes lê nie, veroorsaak dat hulle nie vervolg word nie en dat hulle gou weer kan voortgaan om kabels te steel.

Een van die vele voorbeelde van onbevoegdheid is ’n rioollekkasie wat inwoners van Meadowstraat al vir etlike weke teister en wat net nie opgelos word nie. Die inwoners kan skaars uit hulle huise en erwe kom. Die wortel van die probleem is die nabygeleë pompstasie, waar meer as 80% van al Potchefstroom se riool bymekaarkom en dan daarvandaan na die rioolwerke gepomp moet word. In daardie pompstasie is drie pompe, twee wat moet werk en een op bystand. Slegs die een pomp werk egter maar dit is net ’n kwessie van tyd voordat dit gaan staan. Dit beteken dat die meeste van Potchefstroom se riool dus uiteindelik in die Mooirivier beland, wat krimineel is. Die rioolwerke is in ’n uitstekende toestand en kan die riool verwerk, maar dit kom net nie daar uit nie.

“Die gesegde lui dat ’n vis van sy kop af vrot en dit is in hierdie munisipaliteit baie duidelik dat dit die geval is. Die inwoners is egter nou keelvol en ek hoop dat hulle sal saamstaan sodat daar ’n verbetering in ons dorp kan kom. Dit is lekker dat inwoners van Ikageng, Promosa en Mohadin ook na ons toe uitreik vir hulp en ek glo hulle staan saam met ons in hierdie stryd,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Die munisipaliteit het nie op die Herald se herhaalde navrae oor die aangeleentheid reageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button