Local newsNewsNews

Afriforum bring PAIA aansoek oor beweerde ‘sangoma ritueel’

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder by die NWU, is die aansoek ontvang en word dit in terme van die voorgeskrewe proses hanteer.

Afriforum jeug het onlangs ‘n PAIA aansoek by die NWU ingehandig om meer inligting rondom die formele ondersoek wat die NWU oor die sogenaamde ‘sangoma ritueel’ gedoen het.

Volgens dié organisasie bestaan daar nog talle kritieke vrae oor die insident van 13 April wat na bewering deel was van ’n “sangoma-ritueel” in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Eikenhof-dameskoshuis.

 

Volgens Yvonne Gerber, jeugbeampte by AfriForum Jeug, is daar talle leemtes in die NWU se terugvoer oor dié insident wat omstreeks 22:00 op ’n Sondagaand in die koshuis plaasgevind het en volgens inwoners met bloedstollende gille gepaardgegaan het. AfriForum Jeug het kort ná die insident geëis dat die NWU ’n formele ondersoek na die gebeure van stapel stuur, maar hou vol dat die universiteit se terugvoer ontoereikend is en nie genoegsame of gerusstellende antwoorde bied oor die gebeure nie.

 

“Indien dit dan nie, soos die inwoners beweer het, ’n sangoma-ritueel was nie, wat was die oorsaak van die gille wat inwoners deur die loop van daardie aand moes aanhoor? Die universiteit het tot dusver geen alternatiewe verduideliking gebied vir die insident nie ten spyte van die kommer wat onder inwoners daaroor bestaan,” sê Gerber.

 

Die jeugorganisasie eis, as deel van sy PAIA-aansoek, onder meer gedetailleerde inligting oor die omvang en metodologie van die ondersoek sowel as ’n volledige uiteensetting van die bevindings en gevolgtrekkings waartoe die ondersoekers gekom het. Antwoorde rakende die universiteit se bevindinge oor die rede vir die gille waarvan verskeie inwoners daardie aand klankopnames gemaak het, is veral van kritieke belang. AfriForum Jeug versoek daarbenewens ook inligting oor die stappe wat die universiteit ná die voorval gedoen het om studente se kommer uit die weg te ruim en of enige opvolgvergaderings met die inwoners gehou is waartydens die bevindinge van die ondersoek bespreek is. Die universiteit word ook versoek om inligting te voorsien oor of die NWU sedert die voorval nuwe beleide ingestel of bestaande beleide of riglyne hersien het wat beginsels vir die uitvoering van kulturele of godsdienstige praktyke in universiteitskoshuise uiteensit.

 

“Die NWU se stilswye en gebrek aan deursigtigheid oor hierdie ontstellende voorval wek ernstige vrae oor die institusionele aanspreeklikheid en studente se veiligheid op kampus. AfriForum Jeug het ’n verantwoordelikheid teenoor die studente wat getuig het oor daardie aand se gebeure en ons sal nie rus totdat daar verantwoording gedoen kan word nie,” sluit Gerber af.

 

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder by die NWU, is die aansoek ontvang en word dit in terme van die voorgeskrewe proses hanteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button