Watermeter-diefstal veroorsaak watervermorsing in Promosa
Enige persoon met inligting word versoek om die plaaslike polisie te kontak.
Die gemeenskap van Promosa is in beroering ná ‘n skerp toename in die diefstal van watermeters en waterstokke. Gemeenskapsleier Frans Peppes het bevestig dat minstens 12 watermeters onlangs gesteel is, wat groot waterverlies tot gevolg het.
“Dit het al klaar ‘n probleem geraak,” het Peppes gesê. “Hierdie tipe diefstal raak baie gewild in Promosa.”
Die verwydering van die meters laat water vrylik in verskeie strate vloei. Wat nie net water mors nie, maar ook gevaarlike toestande vir inwoners skep. Sommige gedeeltes van die woongebied is reeds onder water, wat die situasie vererger.
Die owerhede is gevra om dringend in te gryp, en die gemeenskap word aangemoedig om verdagte aktiwiteit rondom watermeters en infrastruktuur aan te meld.
Intussen waarsku Peppes dat indien hierdie tendens voortduur, die hele gemeenskap ernstige gevolge in die gesig kan staar, veral met watertekorte wat reeds ‘n probleem in die streek is.
Enige persoon met inligting word versoek om die plaaslike polisie te kontak.
Navraag is by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar ten tyde die publikasie, is geen terugvoer ontvang nie.



