Die Luiperds het die afgelope naweek, met 7- 59 op tuisbodem teen die Griffons les opgesê.
‘n Wen teen die SWD komende naweek is nou amper ononderhandelbaar vir die Luiperds om die halfeindstryd van die Curriebeker se eerste afdeling te haal.
Volgens Riaan van Straten, die waarnemende hoofafrigter van die Noordwesters, is hulle baie teleurgesteld met die vertoning.
“Ons gootste probleem op die stadium is dat osn nie bestendig genoeg is nie. Ons speel sulke episodes van baie goeie rugby dan maak ons basiese foute. Teen die groter spanne kos basiese foute jou sewe punte,” het hy verduidelik.
Die Luiperds is ook in die kompetisie deur beserings beduiwel met 12 spelers op die krukkelys.
“Ons is maar dun, maar ons gaan aanhou werk. Solank die spelers leer uit so wedstryd uit gaan ons vorentoe gaan. Hoe vinniger ons leer hoe beter. dit is ‘n nuwe week met nuwe dinge. Ons het nog ‘n kans,” het Van Straten gesê
Die Luiperds reis komende naweek na Outeniqua Park in George om die SWD in die laaste rondte voor die uitklop rondtes plaasvind aan te vat.
Die wedstryd skop om 18:00 op 11 Julie af.



