Vrou verdwyn terwyl suster slaap
Geen leidrade kon tot die opsporing van Awol lei nie.
‘n Vrou van Rustenburg het glo spoorloos verdwyn terwyl haar suster in dieselfde huis gelê en slaap het.
Die polisie in Rustenburg versoek die gemeenskap se hulp om vermiste Udica Awol (44) ook bekend as Cindy, op te spoor.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting wat ontvang is, is Awol laas op Sondag, 27 April omstreeks 23:00 deur haar suster by die huis gesien toe hulle gaan slaap het.
“Op Maandag, 28 April omstreeks 06:00, toe haar suster wakker geword het, was Awol nie by die huis nie. ’n Soektog is uitgevoer en alle leidrade is opgevolg, maar dit het nie positiewe resultate opgelewer nie.”
Ten tyde van haar verdwyning het sy ‘n swart jean en swart top aangehad. Sy is lig van gelaat, het bruin oë, weeg 55 kg en is skraal. Sy het bruin krullerige hare, ‘n litteken op haar linkerwang, ‘n skerpioen-tatoeëermerk op haar rug en die woord “fearless” getatoeëer onder haar regteroor.
Enigiemand wat inligting het oor war sy haarself bevind, kan die ondersoekbeampte, sersant Amukelani Mashembye, op by 082 772 9226, u plaaslike polisiestasie of die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Misdaadstop-nommer by 08600 10111 kontak.



