Ouers bekommerd na vuurwapen insident by laerskool
'n Vuurwapen is op een van die ouers van Laerskool Bailliepark gerig tydens 'n ontstellende voorval buite die skool. Die skool neem die insident ernstig op en doen 'n beroep op die gemeenskap om met inligting vorendag te kom.
Ouers van Laerskool Bailliepark is erg bekommerd nadat ‘n vuurwapen Maandag op ‘n ouer gerig is wat sy kinders by die skool opgelaai het.
‘n Brief is Dinsdag deur die skool aan ouers van dié laerskool uitgestuur en gevra enigiemand met inligting moet vorendag kom.
“Ons wil u graag in kennis stel van ’n onaangename insident wat gistermiddag by die skool plaasgevind het. Een van ons ouers is deur ’n swart BMW gevolg vanaf sy werkplek in die Bult-omgewing. Die ouer het sy kinders omstreeks 17:15 by die draaihek in Paveystraat by die nasorg opgelaai,” lui die omsendbrief wat deur Jonathan Baron, BL Voorsitter, uitgereik is.
“’n Blou-grys dubbelkajuitbakkie het toe gestop. Van die insittendes het uitgeklim en een persoon het in ’n woordewisseling met die ouer betrokke geraak. Tydens dié interaksie is ’n vuurwapen op die ouer gerig. Die ouer het homself en sy kinders so vinnig moontlik van die toneel verwyder. Geen skote is afgevuur nie en niemand is beseer nie.”
Die brief wil ouers van hulle kinders se veiligheid verseker.
“Dit wil tans voorkom asof die hele voorval op ’n misverstand berus het. Ons as skool beskou hierdie voorval egter in alle erns en is reeds besig om die betrokke voertuie te identifiseer. Ons doen ’n beroep op enige ouers met verdere inligting om asseblief vir Mnr. Benje Ouwencamp te kontak. Die veiligheid van ons kinders, ouers en personeel is vir ons nie onderhandelbaar nie en ons kan u verseker dat ons alles in ons vermoë doen om dit te waarborg.”
By navraag van die Herald, het Meneer Benje Ouwencamp, onderhoof van Laerskool Bailliepark, gesê die skool kan in hierdie stadium nie kommentaar lewer nie, maar hy kan verseker die beeldmateriaal is reeds aangevra en die saak word ondersoek.



