Plaaslike skrywer se kinderboek op die punt van publikasie
Die storie is self deur Adri geskryf, sowel as die illustrasies is als self deur haar gedoen.
‘n Plaaslike skrywer en illustrateur, Adri Scholtz, is in haar noppies om te deel dat haar debuut-kinderboek, Vetvlooi en Vabond, nou op die hond se stert is vir publikasie. Wat dié projek besonders maak, is dat die storie én al die illustrasies van begin tot einde self deur die skrywer gedoen is. Die verhaal van die ondeunde vlooi en sy lojale viervoetige vriend is klaar geïllustreer en reeds by die uitgewer — betyds om onder Kersbome te land.
In die komende weke gaan sy lesings by plaaslike skole aanbied waar kinders reeds kennis kan maak met die twee geliefde karakters. Ouers sal daar die kans kry om vooraf te bestel sodat boeke betyds vir Desember in hul hande is.
Dié mylpaal is behaal ten spyte van ’n hele katalogus van teenoorgelukkies: ’n twee stryd met varkgriep, ’n vinnige hospitaalprosedure, ’n vinger in ’n bakkiedeur, en hand wat gesny is deur ñ mes in die skottelgoedwasser. En tog, geen sperdatum is ooit gemis nie. Buiten haar rol as ma, werk sy in die week én op Saterdae as haarkapster — ’n werk waarin sy met oortuiging voel sy geroep is om Jesus se liefde en genade met vroue te deel. Sy beskryf vroue as “baie spesiale wesens” en het ’n diep passie vir vroue en kinders. Daarbenewens is sy ook ’n leier by Duet-gemeente se kinderbediening waar sy Sondae met groot liefde en entoesiasme met kinders werk.
“Ek gee alle eer aan God,” vertel sy.
“Ek is nederig dankbaar vir die geleentheid. Ek hoop dit wys vir ander vroue en mammas dat ons sterker is as wat ons dink — soms hou ons familie, geloof, werk, kerk, skool, skottelgoed én ’n boekprojek alles gelyk aan die gang… en leef ons nog om die storie te vertel.”
Vetvlooi en Vabond beloof om ’n humoristiese, hart-warm en lewensgetroue avontuur vir kinders te wees — ’n boek wat met plesier gelees én trots plaaslik ondersteun kan word.
Aanlyn kope sal ook binnekort gedoen kan word op die Naledi uitgewers se webtuise.
Lesers sal op hoogte gehou word sodra Vetvlooi en Vabond beskikbaar is vir bestellings.





