Local newsNewsNews

Sekuriteitsmaatskappy vs polisie – wie bel jy wanneer

Deur die regte diens op die regte tyd te kontak, kan 'n groot verskil maak.

Met sekuriteitsmaatskappye wat deesdae ‘n sterk sigbare teenwoordigheid in Potchefstroom het, is baie inwoners geneig om hulle eerste te skakel wanneer daar ‘n probleem of noodgeval opduik.

Alhoewel dié maatskappye ‘n belangrike rol speel in die bekamping van misdaad en die beveiliging van hul kliënte, herinner kenners die publiek dat sekuriteitsfirmas beperkte hulpbronne het en nie in elke situasie kan optree nie.

Sekere misdade, soos kabeldiefstal, huishoudelike geskille, geweldsvoorvalle en ander oortredings waar wetstoepassing vereis word, moet direk by die polisie aangemeld word. In sulke gevalle is dit die polisie wat die nodige mandaat het om op te tree en die saak te hanteer.

Sekuriteitsmaatskappye funksioneer ook as privaat ondernemings wat hoofsaaklik deur lidmaatskapfooie befonds word. Wanneer hulle vir elke moontlike voorval uitgeroep word, plaas dit druk op hul reeds beperkte hulpbronne en kan dit waardevolle tyd wegneem van noodgevalle waar hul onmiddellike bystand werklik nodig is.

Volgens Marko Strydom, area-bestuurder by CB Security, word hul spanne dikwels vir ‘n wye verskeidenheid klagtes ontbied.

“Ons word regtig vir enigiets uitgeroep. Natuurlik reageer ons altyd en sal nooit ophou nie, maar wanneer mense sake wat eintlik by die polisie aangemeld moet word na ons toe deurstuur, vat dit tyd weg van ons kliënte af en ook mense wat regtig in nood is. Ons kliënte sal wel altyd eerste ons prioriteit bly,” sê Strydom.

Die polisie beklemtoon egter dat alle misdade direk by hulle aangemeld kan word. Noordwes-polisiewoordvoerder sersant Kelebogile Morake sê inwoners moet nie huiwer om die polisie te kontak wanneer ‘n misdaad plaasvind nie.

“Ons verstaan dat telefoonlyne soms probleme kan hê. In noodgevalle of om misdade aan te meld, kan 065 135 4854 geskakel word. Crime Stop kan ook by 08600 10111 geskakel word en van selfone af kan 112 geskakel word en die Potchefstroom-polisie versoek word. Anonieme wenke kan ook via die MySAPS-app vanaf ‘n slimfoon gestuur word,” verduidelik Morake.

Wie bel jy wanneer:

Deur die regte diens op die regte tyd te kontak, kan inwoners help om hulpbronne meer effektief te gebruik en verseker dat noodgevalle vinnig die aandag kry wat dit vereis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button