Befondsing onder druk maar NG Welsyn hou aan dien
NG Welsyn Potchefstroom is een van vyf takke in die provinsie en almal dien as belangrike steunpilare vir mense wat hulp nodig het.
NG Welsyn Potchefstroom sê hulle bly verbind tot dienslewering aan kwesbare gesinne, ondanks toenemende finansiële druk nadat staatsubsidies oor die afgelope paar jaar afgeneem en daarna gestagneer het.
Volgens Riëtte Fourie, provinsiale bestuurder van NG Welsyn in Noordwes, is befondsing nie in een drastiese stap gesny nie, maar het dit oor tyd afgeneem.
“Subsidie van die staat het verlede jaar met gemiddeld 10% per tak afgeneem. Ons behoort hierdie jaar weer dieselfde, verminderde, bedrag as verlede jaar vanaf die staat te ontvang,” sê Fourie.
Sy verduidelik egter dat die groter probleem is dat staatsubsidies sedert die 2022/2023-boekjaar nie verhoog is nie, terwyl kostes steeds styg.
“Donateursbefondsing het ook oor die afgelope paar jaar geleidelik afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van die uitdagende ekonomiese klimaat in die land. Hierteenoor het die operasionele koste van kantore toegeneem, weens die voortdurende styging in lewensonkoste.”
Fourie sê die grootste daling in befondsing het tydens die Covid-19-pandemie plaasgevind en dat die vlakke sedertdien nie weer ten volle herstel het nie.
Ten spyte van die finansiële druk is daar tans geen planne om maatskaplike werkers af te lê nie.
“Daar is tans geen sprake daarvan om maatskaplike werkers af te lê nie. Die organisasie ondersoek voortdurend operasionele alternatiewe en bly daartoe verbind om dienste in die gemeenskap te behou,” sê sy.
Om inkomste aan te vul, fokus NG Welsyn toenemend op dienste wat teen billike tariewe aangebied kan word.
“Die kantoor kan byvoorbeeld ouerleiding, mediasie, ouerskapsplanne en ander terapeutiese dienste teen billike tariewe lewer om die kantoor se inkomste aan te vul.”
Die organisasie speel volgens Fourie ’n kritieke rol in gemeenskappe regoor Noordwes. NG Welsyn Potchefstroom is een van vyf takke in die provinsie en almal dien as belangrike steunpilare vir mense wat hulp nodig het.
“Hulle lewer dienste aan ’n groot aantal gesinne en individue, wat op daaglikse basis die beskerming van weerlose kinders insluit. Baie mense maak deurlopend staat op die kantore se kundigheid en ondersteuning waarmee niemand anders kan help nie,” sê sy.
Die organisasie doen volgens haar alles moontlik om volgehoue dienslewering te verseker, maar gemeenskapsbetrokkenheid bly noodsaaklik.
Lede van die publiek kan op verskeie maniere help, onder meer deur vrywilligerswerk of skenkings.
“Professionele kundigheid en tyd kan byvoorbeeld op ’n vrywillige basis beskikbaar gestel word, soos terapeutiese dienste deur sielkundiges of beraders aan mishandelde vroue en kinders, seksueel misbruikte kinders of kinders wat probleemgedrag openbaar,” sê Fourie.
Vrywilligers kan ook help deur praktiese ondersteuning te bied, soos om kinders na dokters- of sielkundige-afsprake te neem.
Daar is ook ’n voortdurende behoefte aan basiese noodleniging.
“Skenkings van nie-bederfbare kruideniersware en toiletware is altyd welkom. Gebruikte klere kan geskenk word vir mense wat nood ervaar, maar dit kan ook aangewend word vir ’n tweedehandse klerewinkel wat inkomste kan aanvul.”
Finansiële bydraes help volgens haar ook om die organisasie se operasionele volhoubaarheid te verseker.
Fourie sê die welsynslandskap in Suid-Afrika is besig om te verander, maar NG Welsyn bly dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning.
“Ons besef dat die welsynsmodel in Suid-Afrika, soos ons dit geken het, vir altyd verby is. Dit is egter met baie genade dat ons die voorreg het om deel te wees van die proses van verandering en ons is opreg dankbaar vir die gemeenskap se getroue ondersteuning.”
Mense wat tyd, kundigheid of finansiële ondersteuning wil skenk, kan vir Retha Erasmus by 018 297 7347 kontak.
Navraag is by die departement van sosiale ontwikkeling gedoen en daar word nog op terugvoer gewag.



