Die oud-Potch Gimmie, Duan Jansen, het ’n fantastiese vyftigtal vir die Titans in die eindstryd van die Krieket Suid-Afrika (KSA) Eendagbeker teen die Lions op die Wanderers aangeteken om sy span na ’n drie paaltjie sege te lei.
Jansen het 61* (61 balle) gistermiddag (Sondag, 29 Maart) aangeteken in ’n beurt wat die wedstryd in die Titans se guns geswaai het. Hy het twee viere en drie sesse gemoker om sy eerste eendagvyftigtal te behaal.
Hy het met die telling op 121/5 op die Wanderers ingestap, met die Lions wat die wedstryd beheer het. Duan het saam met Keagan Petersen vir die manne van Pretoria hoop gegee. Petersen het ’n uitstekende ankerbeurt van 90 (134 balle) gespeel, met elegante houe wat enige krieketpuris sou laat glimlag.
Dit was ’n naelbytstryd tot die einde, met die wedstryd wat eers op die tweede laaste bal beslis is. Die ervare Roelof van der Merwe het in sy 221ste eendagwedstryd die wenlopies aangeteken. Toe Van der Merwe sy eerste wedstryd in 2006 gespeel het, was Duan maar ’n sesjarige seun. Twintig jaar later is hierdie twee spelers verantwoordelik vir nóg ’n trofee in die Titans se propvol kabinet.
Jansen was een van die Titans se staatmakers in die Eendagbeker en het veral met sy veelsydige boulwerk uitgestaan. Hy het ook ’n goeie seisoen vir die Titans in die meerdagreeks en T20-toernooi gehad, wat vir hom ’n kontrak by die Joburg Super Kings in vanjaar se SA20 losgeslaan het.



