Local newsNewsNews

Leier in konstruksiebedryf het ‘n nalentenskap met sy hardwerkende hande gebou

Winston Fuller is bekend as een van die stigterslede van Fuller Civils en Fuller Development, waar hy as boukontrakteur sy merk fisies met talle konstruksieprojekte in Potchefstroom en Suid-Afrika gemaak het.

‘n Man wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en met passie en doelgerigtheid sy vlam gebrand het om ’n ewige nalatenskap te vorm.
Dit is maar een manier om ’n staatmaker in die konstruksiebedryf, Winston Fuller, te beskryf wat op Dinsdag, 31 Maart, op 81-jarige ouderdom oorlede is.

Winston Fuller, ‘n bekende naam in konstruksiekringe en gesoute Potchefstromer, is op 81-jarige ouderdom oorlede.

Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad, gestop en tyd gemaak om met mense te gesels, te luister en raad te gee.

Winston is bekend as een van die stigterslede van Fuller Civils en Fuller Development, waar hy as boukontrakteur sy merk fisies met talle konstruksieprojekte in Potchefstroom en Suid-Afrika gemaak het. Dit sluit die brug op die N12 by Lekwena Estate sowel as die Nelson Mandela-brug by die N12 op pad na Ikageng in.

‘n Jong Winston op ‘n perseel.

Hy was ook betrokke by die konstruksie van die NWU Konservatorium en Duet Gemeente se kerkgeboue, onder talle ander projekte in die mynwese waaraan sy stempel van uitnemendheid gekoppel is.
Sy twee kinders, Sidney is direkteur van Fuller Civils en Elizma direkteur van Fuller Development en voer sy nalatenskap in die bedryf verder.

Winston Fuller
WInston Fuller was vol liefde vir sy werk. Foto: Verskaf

“Dit was altyd een van my pa se groot drome dat ons dit wat hy in 1974 begin het, vorentoe sal neem. Ek onthou hoe ek as jong dogtertjie hom gehelp het en só ook ’n liefde vir die bedryf by hom geleer het.”

Sidney het sy liefde vir die siviele bedryf spreekwoordelik met elke hap sement wat hy as baba op die perseel geëet het vasgesement.

“My pa het groot monumente gebou soos watertorings en baie praktiese voorstelle gehad, asook diep ingenieurskennis. Hy het besluit om op sy eie te gaan nadat hy ervaring opgebou het by Murray & Roberts en vir Peter Bolton gewerk het,” vertel sy verder.

Winston was ’n opgeleide skrynwerker wat van 8-jarige ouderdom geweet het wat hy vir ’n lewe wou doen en dat hy dit met liefde sou aanpak.

Hy is op 3 Augustus 1944 in Potchefstroom gebore en het grootgeword waar Elgro River Lodge nou is.
Hy kom uit ’n Engelse familie met ’n Australiese agtergrond en kon aanvanklik nie Afrikaans praat nie. Toe hy sy vrou Miemie (van Aswegen) Fuller in 1962 ontmoet het, het sy hom leer Afrikaans praat.

Hy het op ’n klein skool by Rooipoortjie skoolgegaan en is toe na Potchefstroom High School for Boys, waar hy tot Graad 10 skoolgegaan het.

Winston was een van agt kinders en moes van jongs af hard werk om ’n lewe vir homself te maak, veral nadat sy ouers vroeg in sy lewe oorlede is.

“My pa sou altyd ’n plan maak. Om probleme op te los was tweede natuur vir hom. Hy het baie leierskap gewys. Sy passie en liefde vir die werk het hy aan my en Sidney oorgedra,” vertel Elizma.

Vir Winston kon enigiets oorkom word. Motivering was nie ’n probleem nie. Dit kan ’n mens sien in hoe hy nie koffie op ’n gasstoof in die natuur sou maak nie – hy sou seker maak om dit op ’n vuur te doen, al moes hy van voor af hout gaan soek.

Winston Fuller het ‘n groot liefde vir die natuur gehad. Foto: Verskaf

“My pa was baie lief vir vuurmaak. Hy sou enige rede kry om ’n vuur te maak en net daarvoor sit en kyk en luister. Hy het gehou van braai en om tyd in die natuur deur te bring. Een van sy gunsteling plekke was Botswana.”

Donkies was ook een van sy ander groot liefdes wat hom na sy kinderjare teruggevoer het. Voor sy afsterwe het hy die geleentheid gekry om met ’n donkiekar in Nieu-Bethesda te ry. Hy was ook ‘n groot rugbyaanhanger en sou die Springbokke luidkeels ondersteun veral teen Australië.

Hier is Winston saam met sy kinders, Elizma en Sidney. Hul het dit geniet om saam rugby te kyk. Beide sy kinders is deel van die familiebesigheid en het hul passie en kundigheid by hul pa geerf. Foto: Verskaf

“Buiten die werk was my pa baie lief vir sy gesin, skoondogters en kleinkinders. Hy het alles vir ons gedoen.”

Winston Fuller saam met donkies, waarvoor hy groot agting voor gehad het. Foto: Verskaf

Winston laat sy vrou, Miemie, met wie hy 59 jaar getroud was, asook kinders, Elizma, Engela, Sidney, Molly en kleinkinders, Winston (junior) en Warren, agter.
Sy gedenkdiens vind op Vrydag, 3 April, om 11:00 by Fuller Civils in 60 Wynne Straat, Bailliepark, plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button