Local newsNewsNews

Villagers-studente word vir kreatiewe plakkaat beloon

Liam Naude en sy vriende het besluit om 'n plakkaat na die Varsitybeker-eindstryd in Pretoria te neem. Voor hulle weer sien het hierdie idee vir hul so paar rand laat verdien.

‘n Groep NWU Villagers Manskoshuis-studente het waarde vir hul kreatiwiteit gekry toe hulle met ‘n unieke “fondsinsamelingsprojek” ‘n paar ekstra rande ingesamel het.

Dié studente het by Maandag (13 April) se Varsitybekereindstryd in Pretoria, wat op SuperSport uitgesaai is, ‘n plakkaat gemaak wat noem dat hulle “geld vir bier” nodig het. Op die plakkaat was ‘n rekeningnommer waarin mense kon inbetaal.

Volgens Liam Naude, ‘n tweedejaar-bedryfsingenieurswese-student en lid van Villagers Manskoshuis, het hy en sy vriende besluit om iets prettig te doen, veral omdat dit ‘n eindstryd was.

Die plakkaat wat op die dag geskep is om geld op ‘n prettige manier in te samel.

“Ek het die idee aanlyn gekry by iemand wat dit in die VSA gedoen het. Dit was so ‘n jaar gelede in ‘n nuusberig of ‘n video. Ek het toe besluit om ‘n groot karton by ‘n garage te kry en daarna is ons na ‘n vriend se huis toe om met ons kunswerk te begin.”

Liam Naude , ‘n tweedejaarstudent van Villagers Manskoshuis het saam met sy vriende ‘n unieke plakkaat gemaak vir die pret daarvan. Foto: Wouter Pienaar

TV-kameras het die groep studente met die plakkaat tydens die wedstryd opgemerk. ‘n Hele paar kykers het die beeld gestop en toe besluit om vir hierdie studente ‘n geldjie in te betaal.

“Die sein by die wedstryd was nie fantasties nie. Teen halftyd het mense reeds inbetaal. Ons was baie opgewonde. Ons het nie gedink mense gaan regtig inbetaal nie; ons wou dit net vir die gees doen. Toe is daar ander voordele ook.”

Twee trotse oud-studente aan die NWU, Jaco en Anria van Heerden, wat nou in Pretoria woon, het die kreatiewe plakkaat gesien en dadelik besluit om ‘n donasie te maak.

“Die plakkaat het my oog gevang. Ek het gestop en die beeld teruggedraai. Ek het toe besluit om ‘n betaling te maak. Ek was onseker of dit ‘n regte rekening was omdat daar geen naam as verwysing was nie. Ek was bly toe die betaling deurgaan,” vertel Jaco, wat ook sy vriende op WhatsApp-groepe uitgedaag het om die student te ondersteun.

‘n Skermgreep van toe Liam en sy vriende op SuperSport tydens die Varsitybekereindstryd verskyn het. Kykers het besluit om ‘n skenking te maak tot hul “bierfonds”.

“Ons verstaan dat ‘n student geld nodig het. Ons was self studente,” noem Anria.

Jaco was in Hombré Manskoshuis vanaf 1993 tot 1996, terwyl Anria in Karlien Dameskoshuis in dieselfde tydperk was. Hulle het mekaar op kampus ontmoet en is sedertdien getroud.

Liam noem dat hy bly is om te sien hoe alumni soos Jaco en Anria nog steeds ‘n liefde vir die NWU het.

“Dit is lekker om te weet dat hulle ons raakgesien het. Ek hou van ons universiteit se studentelewe. Ek is ‘n trotse Villager.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button