Local newsNewsNews

’n Lewe van diens, liefde en ‘n nuwe begin

Adjudant offisier Ronnie Gerber geniet nou sy aftrede na 34 jaar van getroue diens in die SAPD.

Na meer as drie dekades van onwrikbare diens aan die gemeenskap, groet Adjudant offisier Ronnie Gerber (55) die Suid-Afrikaanse Polisiediens, nie as net nóg ’n afgetrede lid nie, maar as ’n man wie se lewe getuig van passie, opoffering en integriteit.

Gebore in Johannesburg, maar reeds sedert 1984 ’n bekende gesig in Potchefstroom, het Gerber oor 34 jaar lank sy roeping uitgeleef. “Dit was ’n passie van kleintyd af,” sê hy eenvoudig.

’n Passie wat hom deur ontelbare uitdagings, slapelose nagte en moeilike oomblikke gedra het. Sy loopbaan, wat op die rang van adjudant offisier afgesluit het, is gekenmerk deur toewyding en vasberadenheid. Vir hom lê die grootste hoogtepunte nie in titels of erkenning nie, maar in die oomblikke waar geregtigheid geseëvier het.

“Die suksesse wat ek in die hof behaal het ná arrestasies,” vertel hy, “dit bly vir my besonders.”
Maar agter die uniform was daar altyd ’n man met ’n hart vir sy familie, iets wat sy dogter, Michelle Ferreira, op besonder roerende wyse verwoord.

“Vir meer as drie dekades het Pa nie net ’n uniform gedra nie, hy het verantwoordelikheid gedra,” sê sy. “Hy het ingestap in situasies waaruit meeste mense sou weghardloop. Hy het nie net ’n held by die werk geword nie, maar ook by die huis.”

Sy onthou met ’n glimlag hoe hul pa se polisie-instinkte selfs by die huis onfeilbaar was. “Ons kon met niks wegkom nie. Verskonings is behoorlik ondervra… en op een of ander manier het hy altyd geweet wanneer ons jok.”

Tog was dit nie net dissipline wat hom as pa gedefinieer het nie, maar liefde, beskerming en ’n standvastige teenwoordigheid, selfs in die moeilikste tye.

Die familie dra steeds die pyn van die verlies van hul seun en broer in Junie 2022, maar volgens Michelle was dit haar pa se krag en leiding wat hulle deurgedra het. “Dit was krag ver bo die uniform. Dit was hart. Dit was liefde.”

Met sy aftrede skuif Gerber se fokus nou na dit wat vir hom die belangrikste is. Tyd saam met sy vrou, kinders en agt kleinkinders. “Tyd wat nie altyd daar was nie,” erken hy.

Tussen rustige dae, visvang, sy gunstelingstokperdjie, en die vooruitsig van meer familie-oomblikke, begin ’n nuwe hoofstuk. Sy raad aan jong polisiemanne is eenvoudig, maar kragtig. “Wees altyd eerlik en doen alles voluit.”

Maar hierdie storie van diens eindig nie by een uniform nie. Langs hom, deur elke oproep, elke gemiste vakansie en elke onseker nag, was sy vrou Adéle, self ’n voormalige polisielid met meer as 31 jaar diens agter haar naam. Terwyl hy die gemeenskap beskerm het, het sy die huis beskerm.

“Om met ’n polisieman getroud te wees is nie maklik nie,” sê Michelle. “Sy was die kalmte wanneer dinge chaoties was, die krag wanneer dinge swaar was, en die gom wat hierdie familie bymekaar gehou het.”

Nou, met albei ouers in aftrede, wag daar ’n nuwe avontuur, een wat dalk minder sirenes het, maar net soveel betekenis.

Die paartjie gaan boer. Dalk is dit die perfekte volgende hoofstuk. Want boerdery, soos hul lewe tot dusver, vra geduld, geloof en harde werk. Jy plant sade en vertrou dat dit sal groei. As daar een ding is wat Ronnie Gerber en sy vrou oor jare bewys het, is dit dat hulle weet hoe om te plant. Waardes, liefde en geloof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button