Local newsNewsNews

Opposisiepartye maak kapsie na munisipaliteit publieke vergadering uitstel

Die DA en die VF Plus in JB Marks noem dat die munisipaliteit weereens verantwoordbaarheid ontduik.

Opposisiepartye in die JB Marks Munisipaliteit spreek kommer en teleurstelling uit oor die uitstel van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vergadering van 16 April by die Madiba Banketsaal in Potchefstroom.

Wat as ‘n belangrike vergadering gesien word rakende die begroting van 2026/27 waar die gemeenskap in kan deelneem en insette lewer is glo uitgestel weens ‘n gebrek aan belangstelling en reënweer. Die munisipale bestuurder, GOP-bestuurder en ander besluitnemers kon ook nie die vergadering bywoon nie.

Volgens DA Wyk 24 raadslid in JB Marks, Sean Trautmann, het die munisipaliteit nie hul basiese bestuursverantwoordelikhede nakom nie.

“Die vergadering was bedoel om inwoners ’n betekenisvolle geleentheid te bied om oor voorgestelde kapitaalprojekte, tariefverhogings en plaaslike ontwikkelingsprioriteite te besin.”

Volgens Trautmann was die dokumente wat aan die publiek voorgehou is, fundamenteel gebrekkig. Hul doen ‘n beroep op die munisipaliteit om hul administrasie rakende die GOP in orde te kry en ook diegene aanspreeklik te hou vir die uitstel van hierdie vergadering en ook die vergadering te herskeduleer.

“Hele wyke is uit die GOP weggelaat, terwyl ander verouderde en hergebruikte inligting bevat het wat so ver as die 2021–2022 boekjaar dateer. Ontstellend genoeg weerspieël dit dieselfde tekortkominge wat in 2025 ervaar is, waar vegadering soos hierdie weens swak voorbereiding uitgestel moes word,” voer hy aan.

Matthys van Tonder, koukusleier van die Vryheidsfront Plus in die JB Marks Munisipaliteit noem dat hy nie verbaas is dat die vergadering uitgestel is nie.

“Die regering mislei doelbewus die raadslede en publiek. Hierdie is al ‘n ou manier van die regering om verantwoordbaarheid te ontduik. Die regering kanselleer die geïntegreerde ontwikkelingsplan vergaderings sodat hulle nie hoef verantwoordbaarheid teenoor die mense te gee nie.”

Hy noem ook dat amptenare gewoonlik nie opdaag nie end at herskedulering van vergadering nooit gebeur nie.

“Dit word altyd net uitgestel tot dit afgestel kan word, en volgende jaar gebeur dieselfde weer. Die groot probleem wat ons het is dat hierdie veral die vergadering is rakende die grootste grosbelastingbetalers in Potchefstroom. Hierdie is die mense aan wie die regering moet verantwoording doen vir hoe hulle geld spandeer word, wat hulle elke maand aan dienste betaal,” meen hy.

Volgens Trautmann is inwoners met onvolleige inligting gekonfronteer en is ‘n substandard vergadering sonder die regte besluitnemers gehandhaaf.

“Die DA loof die inwoners wat geweier het om hierdie onaanvaarbare standaard te aanvaar. Hul aandrang op ’n behoorlike proses het tot die uitstel van die vergadering gelei en verseker dat hul stemme nie geïgnoreer word nie.”

Trautmann gaan word deur daarop te wys dat parlementêre verteenwoordigers wat by toesigprosesse betrokke is, asook amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie die mislukte vergadering bygewoon het.

“Dit werp ’n swak lig op die institusionele geloofwaardigheid van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit,” noem Trautman.

Van Tonder voer verder aan dat dieselfde patrone ook in Ventersdorp kop uitsteek.

“Die vergadering word so geskeduleer dat dorpsinwoners nie die vergadering kan bywoon nie. Dit word altyd op afgeleë plekke geskeduleer, waar dorpsinwoners ver moet reis om die vergadering by te woon.”

Die Potchefstroom Herald het die JB Marks Munisipaliteit vir kommentaar genader maar nog nie teen druktyd terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button