Onderwyslegende by Potch Primary maak ‘n blywende merk
Wat vir De Villiers aangenaam was in sy tyd as hoof by Potch Primary, was die feit dat die skool van 156 leerders tot oor die duisend gegroei het.
Dissipline en passie het die rugraat gevorm van een van Potchefstroom se groot geeste in die onderwys, mnr. Willie de Villiers, wie se loopbaan oor 37 jaar gestrek het.
De Villiers het in April vanjaar amptelik uit die onderwys getree nadat hy vir 27 jaar skoolhoof by Potchefstroom Primary was en vanaf 2025 as kringbestuurder ’n oorsigrol gespeel het om skole in die Potch-omgewing te bemagtig.

Sy harde werk, toewyding en passie vir die onderwys het verseker dat hy sy merk in Potchefstroom gelaat het – tog voel hy hy kan nog baie gee as ’n leermeester vir jonger onderwysers en hoofde.
“Ek is nou afgetree, maar dit sal steeds lekker wees om te kan bydra waar ek kan as ’n klankbord of in ’n mentorskapsrol. Ek is baie opgewonde oor die toekoms van skole in Potch. As jy na die nuwe hoofde kyk by beide laer- en hoërskole, is daar goeie samewerking tussen skole. Dit is belangrik om kennis met mekaar te deel, veral as ’n mens na hoofde-simposiums kyk,” meen hy.
Dit is juis hierdie tipe byeenkomste wat De Villiers as jong skoolhoof baie gehelp en gevorm het tot die leier wat hy vandag is.

“Hoofde soos Jasper Venter (M.L. Fick), Ruben Jacobs (Mooirivier) en Basie Janson (Gimmies) het baie aan my styl gevorm en hoe ek die onderwys sien,” noem hy.
De Villiers se roete na die onderwys was meer onkonvensioneel, maar iets wat vir hom bestem was. Sy oorspronklike plan was om ná skool op atletiek te fokus met ’n atletiekbeurs by die Universiteit van Johannesburg.
“Ek het in 1983 by HTS Carel de Wet gematrikuleer en is daarna na UJ met die atletiekbeurs. Atletiek het toe nie so goed uitgewerk nie. Dit is te danke aan Nollie Meintjies dat ek ’n onderwysbeurs by die Potchefstroom Onderwyskollege (POK) gekry het en in die onderwysrigting gegaan het.”
Interessant genoeg het Meintjies ook vir lank by Potch Volkskool skoolgegaan en De Villiers se seun, Robert, met landloop en langafstande, afgerig.
“Ek het in 1989 by Troyeville Primary in Johannesburg naby Ellis Park as onderwyser begin. Ek is later tot adjunkhoof bevorder voordat ek in April 1998 by Potch Primary aangesluit het. Dit was die begin van ’n baie lekker leerskool. Ek was met puik leermeesters hier in Potch omring.”
Wat vir De Villiers aangenaam was in sy tyd as hoof by Potch Primary, was die feit dat die skool van 156 leerders tot oor die duisend gegroei het.
“Potch Primary is ’n top laerskool in Potch wat ’n goeie naam in die dorp het. In my tyd as hoof was daar ook baie ondersteunende personeel wat ’n mens se taak makliker gemaak het.”
Iets wat De Villiers geniet, is om gedurig te leer en betrokke te wees by onderwyssake buite sy eie skool se mure. Hy was sodoende ook die ondervoorsitter van die SAOU vanaf 2016, terwyl hy in 2022 as provinsiale voorsitter op die nasionale dagbestuur gedien het.
Noudat hy afgetree is, gaan hy meer tyd kan spandeer saam met sy vrou, Liezel. Hulle albei geniet dit om saam te stap en te draf. Verder geniet hy dit ook om outobiografieë te lees.
“’n Mens kan nooit ophou leer en waarneem by ander nie en kyk wat werk en wat nie werk nie,” verduidelik hy.
De Villiers sluit af met ’n fokus op die leerders en dat onderwysers ’n belangrike taak het om hul lewens positief te verander.
“Dit is ’n belegging in die kinders en daardeur raak ’n mens ook hul ouers en gemeenskappe. Ons word met ’n rede op elke kind se pad geplaas.”



