Leslie Barends, die koshuisvader van die NWU Veritas Manskoshuis. Foto: Verskaf
Om ‘n pa vir jou eie kinders te wees is alreeds spesiaal, maar vir die koshuisvader van Veritas Manskoshuis op die NWU Potchefstroomkampus, Leslie Barends, strek die konsep van vaderskap nog verder.
Barends noem dat hy verskeie hoede as koshuisvader dra.
“Ek het baie rolle in die koshuis: Die mentor, leier, die “ouer” volwassene, ondersteuner, die vriend, die regter, maar ek kan nie jou meisie vir jou kies nie,” grap hy.
“Die lekkerste is om een van die Veritas-manne te kan wees wat altyd kan groet, die dag se uitdagings en suksesse te kan deel en elkeen raak te sien vir wie hulle is en wat elkeen doen.”
“Ek het ʼn oop verhouding met die studente waarin ek balans handhaaf tussen professionele koshuispligte en wanneer ons, ons skoene kan uitskop langs die vuur, lekker kan gesels of net ʼn koffie saam drink,” noem hy.
Barends is die Direkteur van Veiligheid, Gesondheid en Omgewing en noem dat ‘n kantoorskuif in 2022 deure vir hom by Veritas Manskoshuis oopgemaak het.
“Ek het paar keer met van die Veritas-manne gesels wat in die dag daar verby gestap het. In 2023 het ek met die Primarius van daardie jaar en die Primarius van 2022 ontmoet; hulle passie, energie en uitkyk het my opgewonde gemaak. Ek is as koshuisvader vanaf Augustus 2024 aangestel.”
Die belangrikste waardes wat hy jong mans wil oordra is om eerlik te wees, op te staan vir waarin jy glo en ander te respekteer.
“Ons eet nie almal ons pizza op dieselfde manier nie; so gun elkeen sy plek en reg om te bestaan,” verduidelik hy met ‘n voorbeeld.
Volgens Barends wil hy as vaderfiguur uitstaan, sonder om die rol van die studente se eie pa’s oor te neem. Daar moet dus steeds vryheid wees om eie besluite te neem.
“Ek probeer altyd om die seuns te leer ken deur soos ‘n goeie afrigter te wees. Elke speler se knoppies verskil wat jy as afrigter moet druk om die beste uit die speler te kry.”
Leslie Barends saam met sy vrou, Chimoné.
Een van die uitdagings van ‘n koshuisvader is om seker te maak dat meer as 200 seuns tuis voel en op dieselfde bladsy is.
“Ek moet reëls kan konsekwent toepas. Om samehorigheid te kweek tussen 260 koshuismanne en elkeen van hulle is unieke individueë. Die belangrikste is om oop kommunikasiekanale te vestig.”
Barends het ook twee seuns, Dylan en Juandré, wie oud-Potch Gimmies is. Hy het juis hulle ook geleer om nie vinger na ander te wys vir hul eie tekortkominge nie
“Indien jy hard gewerk het vir iets en nie daarin geslaag het nie, om nooit ander te blameer daarvoor nie, maar om op te staan en harder te werk.”
Leslie Barends, die koshuisvader van die NWU Veritas Manskoshuis. Foto: Verskaf
Hy is vandag baie trots op waar sy kinders is, juis oor hul werksetiek.
“Dylan soos hulle sê is ‘n lekker “ou” wat altyd smile, ander help en veral die jong seuns wat hy “coach” aan sy lippe hang. Juandré, die kwaai een het ongelooflike dryfkrag, en werk hard vir wat hy wil bereik. Hy is op 18 maande gediagnoseer met strabisme en hulle het gesê hy sal nooit sport kan doen nie, maar hy het nooit opgegee nie.”
Barends eindig af met raad vir seuns en ouers hierdie komende Vadersdag (Sondag, 21 Junie)
Manne, onthou die woorde ‘dankie’ en ‘mis julle’ maak ‘n ouer se hart bly. Ouers, moet nie vergeet om na jou seun te luister nie, te sê ‘sterkte vir jou dag’ en ‘jy maak ons trots.’
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.