Onsekerheid oor Joubert se hospitaalopname laat Fourie-familie met vrae
Die Gautengse hooggeregshof het vroeër vandeesmaand toegestaan dat Joubert van die Potchefstroomse gevangenis na die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria oorgeplaas mag word.
24 Junie 2026 om 11:13:
Kolonel Adéle Myburg, provinsiale polisiewoordvoerder van die Noordwes het aan Herald bevestig dat Joubert wel oorgeplaas is.
“Robert Joubert is oorgeplaas na Kgosi Mampuru Korrektiewe dienste en kry privaat behandeling by ‘n privaat hospitaal. Hy betaal self vir sy mediese kostes en ook die wagte wat hom oppas. Hy het nie borg gegekry nie en bly in aanhouding en onder bewaking,” het Myburg gesê.
Die Fourie-familie wag steeds op antwoorde oor die omstrede oorplasing van die moordbeskuldigde Robert Joubert (75) na ’n private hospitaal, terwyl daar ook onsekerheid bestaan oor die verdere verloop van die strafsaak.
Joubert word daarvan beskuldig dat hy op 10 November verlede jaar die broers Deon en Johnathan Fourie, direkteure van die Chubby Chick-hoenderonderneming in Potchefstroom, in die maatskappy se raadsaal geskiet het. Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon ongeveer ’n maand later aan sy beserings beswyk het.
Die Gautengse hooggeregshof het vroeër vandeesmaand toegestaan dat Joubert van die Potchefstroomse gevangenis na die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria oorgeplaas mag word vir gespesialiseerde ortopediese en psigiatriese behandeling. Die hofbevel het bepaal dat hy vir vier weke, of so lank as wat spesialiste nodig ag, in die hospitaal opgeneem kan word, terwyl hy onder wettige aanhouding en toesig moet bly.
Die Fourie-familie het die aansoek sterk teengestaan en het ook hul misnoeë uitgespreek oor die feit dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die aansoek geopponeer het nie.
Johan le Grange, wat namens die familie as regsverteenwoordiger optree, het Woensdag (24 Junie) aan die Potchefstroom Herald gesê daar is steeds geen bevestiging of Joubert wel in die private hospitaal opgeneem is nie.
“Ons het navrae aan die direkteur van openbare vervolgings sowel as die Nasionale Vervolgingsgesag gerig, maar geen terugvoer is ontvang nie. Die navrae het ook ingesluit hoe hierdie situasie gemonitor word,” het hy gesê.
Le Grange het bygevoeg dat die familie steeds bekommerd is oor die gebrek aan duidelikheid oor Joubert se status en die moontlike uitwerking daarvan op die strafsaak.
Hy meen die saak sal na verwagting op 1 Julie weer in die Potchefstroomse landdroshof dien, maar dat dit waarskynlik uitgestel sal word totdat Joubert uit die hospitaal ontslaan is.
“Die verdediging sal ook hul aansoek om mnr. Joubert te laat evalueer, moet voortsit,” het Le Grange gesê.
In ’n brief aan die NVG het die Fourie-familie reeds hul skok uitgespreek oor die vervolgingsgesag se besluit om nie die dringende aansoek vir Joubert se oorplasing teen te staan nie. Die familie voer aan dat die staat ’n grondwetlike verpligting het om die belange van slagoffers te beskerm en dat die gebrek aan teenkanting die familie se vertroue in die proses geskaad het.
Le Grange het verder aangevoer dat die hofbevel geen maksimum tydlyn vir Joubert se behandeling bepaal nie, wat die moontlikheid van verdere vertragings in die strafproses skep.



