Ferdies se staatmaker kry nasionale toekenning
Valerie Potgieter is as die SAOU-nasionale wenner van die onderwystoekenning vir uitnemendheid in administratiewe werk in ’n skoolomgewing aangewys.
Een van Ferdies se administratiewe werknemers, mev. Valerie Potgieter, is die SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) se nasionale wenner vir uitnemendheid in administratiewe werk in ‘n skoolomgewing.
Potgieter is die kranige persoonlike assistent van Hoërskool Ferdinand Postma se skoolhoof, mnr Morné Smit.
Volgens Ferdies is hierdie besonderse nasionale prestasie ’n bewys van haar onwrikbare toewyding, professionaliteit, werksetiek en die passie waarmee sy elke dag haar rol vervul.
“Agter elke suksesvolle skool staan daar mense wat dikwels agter die skerms werk, en mev. Potgieter is sonder twyfel een van daardie uitsonderlike persone wat ’n onmisbare bydrae tot die sukses van Ferdies en die onderwysgemeenskap lewer,” noem die skool.

Sy het haar welverdiende toekenning ontvang tydens die glansryke gala-aand van die driejaarlikse SAOU-kongres, waar hierdie merkwaardige prestasie saam met onderwysleiers van regoor Suid-Afrika gevier was.

“Mev. Potgieter, u toewyding, vriendelikheid en uitnemendheid inspireer ons daagliks. Dankie vir die verskil wat u maak en vir die hoë standaard wat u stel. U dra die Ferdie-naam met trots en waardigheid uit. Die hele Ferdie-familie is ongelooflik trots op u.”



