Potchefstroom neem afskeid van geliefde prokureur
Die plaaslike prokureur en regskenner, Malan Schutte, is op Maandag, 22 Junie oorlede. Vir die Schutte-familie bly daar nou 'n leemte, maar ook 'n ryk nalatenskap.
Die Potchefstroom-gemeenskap neem afskeid van ‘n man wie se lewe veel meer as net sy beroep was. Vir familie, vriende en kliënte was Pieter Malan Schutte, beter bekend as Malan Schutte, ‘n man van integriteit, humor en onwrikbare liefde vir sy gesin.
Malan is op 22 Junie, ‘n dag ná Vadersdag, op die ouderdom van 62 jaar oorlede.
Hy is op 25 September 1963 in Potchefstroom gebore en het sy hele lewe lank diep wortels in die gemeenskap behou. Van jongs af was dit duidelik dat hy oor ‘n besondere werksetiek en ‘n skerp verstand beskik het.

Nadat hy sy B.Prok- en B.Juris-grade met onderskeiding voltooi het, het hy sy klerkskap onder mnr. Awie Wright gedoen. Op slegs 21-jarige ouderdom het hy reeds groot verantwoordelikheid aanvaar toe hy die leisels van die praktyk oorgeneem en uiteindelik die firma gekoop het.
Met die jare het hy die praktyk tot ‘n gerespekteerde en gevestigde naam in die regswêreld opgebou.
Vir Malan was geen uitdaging te groot nie.
“Sy houding was eenvoudig, sê ja en vind die oplossing soos jy aangaan,” vertel sy seun, Derik Schutte.
Hy het op talle terreine van die reg gepraktiseer. Van strafreg en siviele sake tot boedels en transport van eiendomme.
Maar dit is nie net sy regskennis wat mense sal onthou nie.
“Hy was reguit en eerlik. Jy het altyd geweet waar jy met hom staan. Soms het hy nie veel takt gehad nie, maar daar was nooit kwaadwilligheid in sy hart nie,” sê Derik met ‘n glimlag.
Saam met sy vrou, Carien Schutte, self ‘n regsgeleerde wat as aanklaer en landdros gedien het, het hulle nie net ‘n gesin opgebou nie, maar ook ‘n nalatenskap.
Hul drie kinders het elkeen hul eie pad gevolg, maar steeds die waardes van harde werk en toewyding voortgedra.
Die oudste dogter, Carien Schutte-Wyma, het haarself in die eiendomsbedryf gevestig, terwyl die middelkind, Anei de Waal, haar pa se voetspore gevolg het en as prokureur, notaris en aktevervaardiger by die familiepraktyk aangesluit het. Die jongste, Derik, ‘n voormalige Paralimpiese atleet, werk ook as prokureur in die praktyk. Malan was ook die trotse oupa van twee pragtige kleinkinders.
Die band tussen pa en seun was besonder.
“Ons was beste maats. Ons het mekaar in toom gehou, mekaar gespot en mekaar ondersteun. Dit is ‘n band wat ek vir altyd sal koester,” sê Derik.
Buite die kantoor was Malan die soort mens wat lewe ingebring het waar hy ook al gegaan het. Daar was altyd tyd vir ‘n grappie, ‘n liedjie of ‘n koppie koffie.
Hy was lief vir musiek en gesinsbyeenkomste waar daar gesing en kaart gespeel is.
“En jy moes beslis weet wie ‘Purple Rain’ sing,” vertel Derik laggend.
Maar sy grootste geluk het dikwels in die bosveld gelê.
Die Krugerwildtuin was vir hom meer as ‘n vakansiebestemming, dit was ‘n plek van vrede en tuiskoms.
“Die Kruger was deel van sy siel. As hy daar saam met sy gesin kon wees, was hy op sy gelukkigste.”
Toe sy gesondheid die laaste jare weens kanker verswak het, het hy nog een groot wens Gehad, om die Kruger vir ‘n laaste keer te sien.
“Ongeveer ‘n maand gelede het ons ‘n kampeerwa gehuur en my ma, my pa en ek het saam deur die Kruger gereis. Hy het gemaklik agter gelê en ons het nog een laaste toer saam beleef. Dit is herinneringe wat ek vir altyd sal koester,” sê Derik.
Ten spyte van sy siekte het Malan aktief en betrokke gebly. Hy het sport liefgehad, in sy jonger dae rugby gespeel, gehardloop en gimnasium toe gegaan. Later het padel vir hom nog ‘n manier geword om tyd saam met sy geliefdes deur te bring.
Maar bo alles was hy die man wat sy familie bymekaar gehou het.
“Hy was die gom van ons gesin. Nie noodwendig deur groot woorde nie, maar deur sy teenwoordigheid, deur oproepe, deur te sorg dat almal steeds deel van mekaar se lewens bly. En hy het nooit geskroom om vir ons te sê dat hy lief is vir ons nie.”
Vir die Schutte-familie bly daar nou ‘n leemte, maar ook ‘n ryk nalatenskap.
‘n Man wat hard gewerk, opreg liefgehad en diep spore in die lewens van ander getrap het.
‘n Man wat nie net ‘n naam nagelaat het nie, maar ‘n voorbeeld van hoe om met doel, integriteit en liefde te leef.



