AfriForum versoek LUR om in te gryp na salarisverhogings by JB Marks
AfriForum het sy versoek Vrydag (3 Julie) in ’n formele skrywe aan die LUR, Gaoage Molapisi, gerig rakende verhogings van 37-50%, wat die oë laat rek.
AfriForum maak kapsie teen die 50%-salarisverhoging vir die JB Marks Munisipaliteit se munisipale bestuurder, Kgomotso Kumbe, vir die komende 26/27 finansiële jaar.
Daar is ook salarisverhogings vir ander senior bestuursposte in die munisipaliteit wat tydens ‘n spesiale sitting van die Raad op Dinsdag, 23 Junie, goedgekeur is.
AfriForum dring sodoende daarop aan dat Oageng Gaoage Molapisi, Noordwes se LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, ingryp en ondersoek instel na dié en ander buitensporige salarisverhogings wat vir senior bestuur van die sukkelende JB Marks Plaaslike Munisipaliteit goedgekeur is.

AfriForum het sy versoek Vrydag (3 Julie) in ’n formele skrywe aan Molapisi gerig. Afskrifte daarvan is ook aan Kenetswe Mosenogi, Noordwes se LUR vir die Tesourie, en die ouditeur-generaal gestuur.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, dring AfriForum daarop aan dat Molapisi dringend ondersoek instel na die wettigheid en bekostigbaarheid van die goedgekeurde salarisverhogings.
AfriForum versoek die volgende:
- Molapisi moet bepaal of die besluit voldoen aan die bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en ander toepaslike wetgewing.
- Provinsiale regering moet vasstel of die munisipaliteit, gegewe sy ernstige finansiële verknorsing, reuseskuld aan Eskom en ’n voortslepende diensleweringskrisis hierdie verhogings kan bekostig.
“As daar enige onreëlmatighede of finansiële wangedrag is, moet die provinsie sy grondwetlike toesighoudende bevoegdhede gebruik om in te gryp en belastingbetalers teen verdere finansiële wanbestuur te beskerm,” verduidelik Grobbelaar.
Volgens dokumentasie wat die Herald onder oë gehad het is Kumbe se jaarlikse salarispakket vanaf die huidige nagenoeg R1,4 miljoen tot sowat R2,1 miljoen verhoog.
Verder is verhogings van sowat 37% ook aan ander senior bestuurslede toegestaan wat boonop terugwerkend tot 2024 ingestel gaan word.
“Uit die sowat R78,9 miljoen vrugtelose en vermorste uitgawes is ongeveer R69,3 miljoen daarvan rente op agterstallige Eskom-skuld. Boonop kom hierdie verhogings terwyl paaie, water- en elektrisiteitsinfrastruktuur in die munisipaliteit verval en dienslewering op ’n laagtepunt is,” kap Grobbelaar.
Volgens die VF Plus koukusleier in die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, Matthys van Tonder, is die besluit onverantwoordelik gegewe die munisipaliteit se finansiële uitdagings.
“Só ‘n verhoging op hierdie tydstip is uiters onverantwoordelik gegewe JB Marks se benarde finansiële posisie en die toenemende verval van Potchefstroom en Ventersdorp,” het Van Tonder gesê.
Inwoners kan ook ‘n petisie hier teken rakende hierdie saak.
Die Herald het navraag na die JB Marks Munisipaliteit gerig maar nog nie teugvoer ontvang nie.



