Babaseuntjie sterk nou tuis aan
"Vir ons sal julle altyd Basson se superhelde wees."
Na tien dae in die hospitaal is Basson Roode, die vyf maande oue seuntjie wat teen RSV en Covid-19 geveg het, uiteindelik terug by die huis.
Basson is op Donderdag, 9 Julie, uit Mediclinic Potchefstroom ontslaan nadat dokters daagliks seker gemaak het dat hy die beste moontlike sorg ontvang en spoedig herstel.
Hy is op Maandag, 29 Junie, opgeneem nadat hy ‘n siek geword het en erge simptome begin toon het, waaronder braking, diarree en koors.
“Ons dapper klein seuntjie het ‘n ongelooflike ommekeer gemaak. Klaar met pypies. Klaar met drade. Klaar met suurstof. Klaar met hospitaalbeddens,” vertel sy ma, Elizca.
Basson se ouers, Elizca en PJ, is dankbaar vir almal se hulp, gebede en ondersteuning.
“Julle het ons gedra toe ons self nie meer kon nie. Julle het vir ons hoop gegee op dae toe ons dit nie meer kon sien nie. Julle liefde, ondersteuning en gebede het vir ons familie meer beteken as wat ons ooit sal kan verduidelik.”
Hulle het ook die dokters, verpleegsters en personeel van Mediclinic Potchefstroom by naam bedank.
“Van die eerste dag af het julle ons nie net soos nog ‘n pasiënt behandel nie – julle het ons soos familie laat voel. Dankie vir ‘n skoon en veilige pediatriese saal, vir die streng protokolle wat gevolg is om elke klein pasiënt te beskerm, en dankie dat julle altyd seker gemaak het ons is veilig, gemaklik en goed versorg,” sê Elizca.
Basson se ouers het ook hul waardering uitgespreek teenoor dr. Rikus Hattingh, dr. Hannelie Potgieter, Corlia Kotzé (fisioterapeut) en al die verpleegsters.
“Vir ons sal julle altyd Basson se superhelde wees.”
Elizca sê daar lê nog ‘n herstelproses voor, met opvolgafsprake om Basson se vordering te monitor.
Die gesin sit steeds met ‘n groot uitstaande hospitaalrekening wat nog vereffen moet word.
Mense wat Basson en sy ouers finansieel wil ondersteun, kan hul BackaBuddy-blad besoek.



