Soektog duur voort ná 74-jarige boer verdwyn
Ernst was ten tyde van sy verdwyning in 'n swart sweetpakbroek en donkergrys top geklee.
‘n Grootskaalse soektog is aan die gang nadat die 74-jarige Ernst Steynberg Sondagmiddag, 26 Julie spoorloos van sy plaas, Rietvallei naby Rysmierbult, verdwyn het.
Volgens sy vrou, Alise Steynberg, is Ernst omstreeks 16:15 laas in die kombuis gesien waar hy gereed gemaak het om lughawe toe te ry.
“Ek het hom teen 16:30 begin soek, maar hy was nêrens te vind nie. Hy het nie gery nie. Al die voertuie en sleutels is nog hier. Al sy besittings is hier. Hy het geen identifikasie by hom nie,” het sy gesê.
Ernst was ten tyde van sy verdwyning in ‘n swart sweetpakbroek en donkergrys top geklee.
Alise het gesê boere en hul werkers, Working on Fire-spanne, die polisie met hul honde-eenheid en talle lede van die gemeenskap het Maandag hul tyd afgestaan om na Ernst te soek.
“Hulle gaan die hele plaas fynkam. Ons wil net ons opregte dank aan die gemeenskap uitspreek. Dankie vir hul gebede en ondersteuning. Dit is ongelooflik hoe mense net omgee en inspring,” het sy gesê.
Enigiemand wat Ernst gesien het of enige inligting oor sy moontlike verblyfplek het, word versoek om Alise Steynberg by 082 925 8058 of Deon Basson by 083 677 5106 te skakel.



