Boeties wys hoe gemeenskap gebou word
Met 'n karretjie wat hulle by NAMPO gekoop het om hul gereedskap te vervoer, pak die seuns deesdae allerhande take aan.
Terwyl die meeste kinders hulle middae voor ‘n skerm deurbring, is die broers Fritz (12) en Juan (9) Hagen van Laerskool Mooirivier besig om ‘n verskil te maak, een sak blare en een skoongemaakte stormwaterdrein op ‘n slag.
Die twee boeties, wat saam met hul ouers Johan en Ada in Mooivalleipark woon, het die harte van inwoners gesteel met hul bereidwilligheid om die buurt netjies en veilig te hou. Alles het begin toe Johan Stander van die Mooivalleipark Inwonersvereniging die seuns gevra het om blare op te tel. Hy het aangebied om hulle R10 vir elke sak blare te betaal.
Dit het egter vinnig meer as net ‘n vakansiewerkie geword. Kort voor lank het die twee altesaam 220 sakke blare opgetel. Van daar af het hul passie vir hulle buurt net gegroei. Met ‘n karretjie wat hulle by NAMPO gekoop het om hul gereedskap te vervoer, en verkeerkegels wat Johan Stander voorsien het, pak die seuns deesdae allerhande take aan.

Hulle maak los gruis langs paaie bymekaar en gebruik dit om sypaadjies en parkeerareas netjies te maak. Volgens Fritz het hulle daarmee begin nadat hulle gesien het hoe ‘n motorfiets op die los gruis gly. Hulle maak ook verstopte stormwaterdreine skoon en gebruik die hope blare wat hulle bymekaarmaak om kompos te vervaardig, iets wat hulle binnekort hoop om te verkoop.
Vir Fritz en Juan gaan dit egter oor veel meer as net sakgeld. “Ons wil eendag ons eie besigheid begin,” vertel Fritz trots.

Vir eers spaar hulle hard vir dinge waarvoor hulle self wil werk. Fritz droom van ‘n nuwe hokkiestok, terwyl Juan sy oog op ‘n Lego-stel het. Soms stop inwoners ook langs die pad om die twee met ‘n ekstra geldjie te beloon vir hul harde werk.
Een van hul mooiste herinneringe het op ‘n Sondag plaasgevind toe hulle ‘n parkie skoongemaak het. ‘n Jong vrou wat daar Bybelstudie gedoen het, is ‘n saamrygeleentheid kerk toe deur die boeties aangebied. Nadat hulle haar met hul karretjie afgelaai het, het sy hulle verras met ‘n pragtige skildery van die twee broers as ‘n dankie-geskenk.

Vandag is Fritz en Juan bekende gesigte in Mooivalleipark. Hulle sê die buurt se sterk gemeenskapsgees inspireer hulle elke dag. Elkeen dra sy deel by, van inwoners wat straatligte herstel tot dié wat padmerke oorverf. Dit motiveer hulle om ook hul hande vuil te maak.
Benewens hul gemeenskapswerk blink die twee ook op die sportveld uit. Fritz is lief vir tennis en hokkie, terwyl Juan rugby geniet.
Hul ouers, Johan en Ada, kan nie trotser wees nie. “Dit leer hulle verantwoordelikheid en hoe om deel van ‘n gemeenskap te wees. Dit hou hulle uit die kwaad en weg van te veel tegnologie af. Dit leer hulle ook om te spaar en hard te werk vir wat hulle wil hê. Ons is bitter trots op hulle.”
Soms sluit hul maatjie, Jarred, ook by hulle aan om ‘n helpende hand te verleen.
Met hul klein hande en groot harte bewys Fritz en Juan dat ‘n mens nooit te jonk is om ‘n verskil te maak nie. In ‘n wêreld waar mense dikwels wag dat iemand anders die eerste stap neem, wys hierdie twee jong seuns dat ware verandering begin wanneer jy eenvoudig besluit om te help.
Kyk na die video hier:



