Kragsituasie in Bailliepark en Grimbeekpark: Taakspan besig om nuwe kabel te installeer
Teen 12:35 vanmiddag (Donderdag, 6 Augustus) was 55 mense besig met herstelwerk in Watsonia- en Hermanstraat. Hulle is tans besig om een van die nuwe kabels te installeer.
Die afgelope week ervaar inwoners van Grimbeekpark en Bailliepark voortdurende kragonderbrekings en is hulle sedert Saterdag, 1 Augustus, sonder elektrisiteit. Inwoners is raadop en moedeloos omdat die situasie steeds nie opgelos is nie. Een van die redes hiervoor is glo infrastruktuur wat nie gereeld onderhou word nie.
Volgens die DA-wyk 3-raadslid, Anné van Onselen, is elektrisiëns en kontrakteurs steeds op die toneel besig om die kragtoevoer te herstel.
Teen 12:35 vanmiddag (Donderdag, Augustus) was 55 mense besig met herstelwerk in Watsonia-en Hermanstraat. Hulle is tans besig om een van die nuwe kabels deur te trek.
Daar is gister (Woensdag, 5 Augustus) ‘n verdere fout op die lyn by Papawerstraat ontdek. ‘n Las op die hoek van Lelie- en Watsoniastraat is eergisteraand afgehandel. ‘n Sloot van 300 meter is met ‘n skopgraaf gegrawe om ‘n nuwe kabel te lê.

“Ongelukkig kan daar steeds geen aanduiding gegee word van wanneer die kragtoevoer herstel sal wees nie,” het Van Onselen op die wyk se WhatsApp-groep gesê.
Inwoners kan ook op die wyke (wyk 3 en wyk 24) se WhatsApp-groepe uitreik vir hulp rakende water- of elektrisiteitsprobleme.
Die Herald het navraag vir die JB Marks Munisipaliteit gestuur. Hul het ontvangs geneem, maar hul het nog nie ten tyde van publikasie terugvoer verskaf nie.



